As student verwys die woord ‘liefdadigheid’ vir jou waarskynlik na daardie keer toe jy die karwag meer as twintig sent getip het. Tog is daar wel meer barmhartige Samaritane by Tuks as wat daar karwagte voor die hoofingang is. Perdeby praat dié week met twee skrywers, betrokke by die Universiteit van Pretoria, wat poog om deur hul vakgebied ‘n verskil in die gemeenskap te maak.

HENALI KUIT

As student verwys die woord ‘liefdadigheid’ vir jou waarskynlik na daardie keer toe jy die karwag meer as twintig sent getip het. Tog is daar wel meer barmhartige Samaritane by Tuks as wat daar karwagte voor die hoofingang is. Perdeby praat dié week met twee skrywers, betrokke by die Universiteit van Pretoria, wat poog om deur hul vakgebied ‘n verskil in die gemeenskap te maak.

Leti Kleyn, ‘n uitgewer en ‘n dosent in Kreatiewe Skryfkuns aan die universiteit, het onlangs ‘n gemeenskapsprojek in Karatara, ‘n Suid-Kaapse dorp naby Knysna, aangepak. Die streek gaan onder armoede en al die gepaardgaande maatskaplike probleme, gebuk. “Ons het ʼn lys van behoeftes gemaak en aan ʼn projek begin beplan,” vertel Kleyn. Daar is reeds 600 boeke aan die plaaslike biblioteek geskenk. “Ek is oortuig dat boeke mense se lewens kan verander. Heeltemal kan verander. Ook dat boeke verandering en hoop en ontspanning en ontsnapping kan bring,” sê sy. “Dus het ons gekies om boeke aan ʼn gemeenskap te skenk wat reeds van lees hou en ʼn gevestigde biblioteek het, wat nie net soos ʼn wit olifant staan nie, maar regtig-egtig gebruik word. Ek het daarom vir Maritha Snyman van Lapa-uitgewers genader en sy het … dadelik by die projek betrokke geraak.”

Volgens Kleyn is dit baie belangrik om seker te maak dat jou liefdadigheid vir die gemeenskap waarby jy betrokke raak nie eerder ‘n las is nie. “Hoe leer jy kinders om verantwoordelik te leef as hulle leer dat jy net moet wag, dan gaan jou behoeftes vervul word?” vra sy.

Daarom is ‘n skryfkompetisie vir die laerskole van Karatara, Ruigtevlei, Fairview, Barrington en Farleigh op die been gebring. Kinders kan ‘n fiets wen en ook hul eie skryfwerk in ‘n Lapa-publikasie te siene kry.

Vir dié armoedige streek se kinders kan hulle name in só ‘n boek waardigheid en selfvertroue gee. “Ek het self baie arm grootgeword, maar het in verskillende tye in my lewe altyd iemand gehad wat in my geglo het. Ek wil graag dit ook vir die kinders van Karatara, Ruigtevlei en Redlands wees. Selfs al is daar net één kind wat hom of haar in ander omstandighede ingelees of ingeskryf het,” verduidelik Kleyn.

Die Tuks Writer’s Forum, wat alreeds vyf jaar as ‘n amptelike organisasie by die Universiteit van Pretoria geregistreer is, is ook die afgelope tyd besig om by liefdadigheid betrokke te raak. Op Saterdag, 29 Augustus, is ‘n hip-hop-en-poësiedag in die Musaion aangebied. Die hip-hoppers en digters van sowel ons eie universiteit as die Universiteit van Johannesburg en die Tshwane Universiteit van Tegnologie het met bekgevegte (poetry slams) en resitasies hul slag gewys. Die toegangsgeld van R20 is aan informele kinderhuise in Mamelodi en Atteridgeville geskenk. “Ons het hierdie projekte gekies want vir ons is dit wysheid om kinders te help. Ons was mos ook eers kinders. Hierdie kinders moet op so ‘n manier grootword dat hulle eendag ons vlak (tersiêre onderrig) kan bereik,” vertel die voorsitter van Tuks Writer’s Forum, Simonson Ralebitso.

Hy meen dat ons as Suid-Afrikaners mekaar moet ondersteun. “Dit is verstandig om as ‘n gemeenskap te verseker dat dié wat nie hulself kan help nie, hulp kry. Werklikwaar: dit is ons verantwóórdelikheid.” Ralebitso is van mening dat elkeen, en veral organisasies, soveel moet help om ongeletterdheid en armoede te bestry as wat hulle kan.

Kleyn stem saam met Ralebitso: “Dit is vir my baie belangrik om mense te help wat hulp nodig het”. En, vertel sy, dis natuurlik die beste om gemeenskapsprojekte aan te pak waaroor jy self opgewonde kan raak. “Al is die dorp so arm dat dit dalk beter sal wees om panties en onderbroeke of kos as boeke te skenk, weet ek en glo ek dat boeke lewens kan verander.”

Wie weet, dalk moedig dié skrywers se oorspronklike liefdadigheidsprojekte meer studente aan om die daad by die woord te voeg.

Website | view posts