Meer as net mooi gesigte

by PDBY Staff | Apr 21, 2011 | Sports

KEVIN VAN DER LIST

Ons sien gereeld hoe die TuksCheerleaders hulle danspassies vertoon by byeenkomste soos die Varsity Beker, maar min weet van al die oefening en prestasies agter die dans.

Hulle is in 2001 gevestig deur bestuurder Danie Haasbroek. Die idee van TuksCheerleading is gebaseer op die Amerikaanse kollege cheerleading konsep.

TuksCheerleading het al baie in hul 10 bestaansjare bereik. Hulle verteenwoordig nie net Tuks by sportbyeenkomste nie maar ook groot maatskappye en organisasies. Sommige van hulle het al vir die Blou Bul rugbyspan, die Titans krieketspan en vir Krieket Suid Afrika gedans. Sommige van die groot maatskappye wat hulle al verteenwoordig het sluit Blackberry, Spar, Nashua, FNB en talle ander in. Hulle het ook al saam Steve Hofmeyer en Leon Schuster op die verhoog verskyn.

Die TuksCheerleaders program het in 2002 met opleiding begin vir die Blou Bulle se dansers. Die opleiding het daarvoor gesorg dat hulle in drie opeenvolgende Currie Bekers en een Super 12 seisoen en die Blou Bul span gedans het. Die meisies word vanaf 2001 deur professionele dansafrigters opgelei, soos voormalige Bulls Babe, Tania Becker. Die opleiding fokus op gees, tegniek en dansbewegings.

Volgens Nokwanda Mathe, TuksCheerleaders se kaptein en derde jaar BCom ekonomie student, kan die oefening baie moeilik wees wanneer dit tyd is om te presteer. Dit is hoekom dit belangrik vir almal is om hul kant te bring.

Volgens Mathe is die beste deel van `n TuksCheerleader wees wanneer mense hulle handtekeninge vra en om foto`s saam met hulle te neem. “Ek word herinner daaraan dat dit nie net sweet en spierpyne is nie,” sê sy.

Marlise Malan, `n senior TuksCheerleader en `n vierde jaar onderwys student sê die beste deel van cheerleading is dat jy altyd glimlag en mense motiveer. “Dit is `n uitdaging om voor so baie mense te dans, maar dit is `n goeie adrenalien inspuiting,” sê Malan.

Volgens Haasbroek is TuksCheerleading `n oop klub en enige iemand kan aansluit, veral as hulle `n agtergrond in sing of dans het.

Website | view posts