NATASHIA HUDSON
Wat eens ‘n Romeinse fees ter ere van die liefde was, het in ‘n wêreldwye feestelikheid ter ere van sjokolade, blommetjies en hartjies ontpop. Vir sommige raak die “I love you”-bekers en “Kiss me”-onderklere egter nou afgesaag. Om nie eens te praat van die ander tradisionele maniere waarop Suid-Afrikaanse paartjies Valentynsdag gewoonlik vier nie. Op eie bodem hou Valentynsdag – vervelige, voorspelbare Valentynsdag – geen meer verrassings in nie …
Liefie-diefie flieks soos Valentine’s Day is propvol verliefde paartjies terwyl restaurante met rooi tafeldoeke en kersies in gesellige vryhoekies ontaard. Op Valentynsdag is oorspronklikheid dus uit en kommersialisme in. Maar is dit die geval regoor die wêreld? Of is die Valentynsgras dalk groener en varser aan die anderkant van die aardbol?
Nie alle lande volg ’n hartjie-en-sjokolade-formule nie. Veral Oosterse kulture vier Valentynsdag op ongewone wyses. In China, byvoorbeeld, val Valentynsdag op die sewende dag van die sewende maand op die Chinese kalender. Hierdie dag word die Sewe Susters Fees of die Fees van die Dubbel Sewes genoem en word deur kleurvolle rituele wat fokus op gebede aan die skikgodinne herdenk. Volgens die Chinese kultuur bepaal die skikgodinne die noodlot van verliefde paartjies.
Die Japanese kultuur vier weer Valentynsdag op twee verskillende datums. Op 14 Februarie ontvang mans geskenke wat baie noukeurig deur hulle vroue uitgesoek word. Op 14 Maart, wat as Wit Dag bekendstaan, moet die mans dan hierdie einste geskenke aan hul vrouens terugbesorg. So kies die vrouens eintlik hul eie geskenke. Die Koreaanse tradisie is soortgelyk aan die Japanese een deurdat Koreane ook Wit Dag op 14 Maart herdenk. Geheime bewonderaars word aangemoedig om hulle liefde te verklaar aan dié op wie hulle heimlik verlief is.
Dit is nie slegs die verliefde paartjies wat die kans gegun word om fees te vier nie, maar die enkellopendes ook. Op 14 April, presies ’n maand na Wit Dag, word Swart Dag in Korea herdenk. Die enkellopendes kom bymekaar, eet swart jajang-noedels (vandaar die naam Swart Dag) en vier hul alleenloperstatus.
In Taiwan draai alles weer om die aantal rose wat ‘n geliefde ontvang. Een roos beteken “enigste liefde”, 11 rose “gewildste”, 99 rose “vir ewig” en 108 rose is ’n huweliksaanbod. Oosterse Valentynstradisies is nou maar eenmaal volksvreemde verskynsels. Dalk is onoorspronklike en kommersïele Suid-Afrikaanse Valentynsdae tog nie so afgewater nie. Gebede aan skikgodinne, geskenke toevertrou aan ander vir ‘n maand en swart jajang noedels klink nou nie juis watwonders nie. En wie wil nou rose tel as jy ’n “vervelige, voorspelbare” Valentynsdag in die bosveld onder die sterre kan geniet? Dalk is local tog lekkerder.