Lilium werp hul brood op die water

by PDBY Staff | May 10, 2010 | Uncategorized

MARELIZE MYERS

 

Op 25 Maart het tien dames van Lilium by Varsity Bakery hand bygesit om brood vir die vele minderbevoorregte mense van Pretoria te bak.

Varsity Bakery het nie net hul fasiliteite gratis vir die dames van Lilium aangebied nie, maar die vriendelike en hulpvaardige personeel het die meisies ook stap vir stap touwys gemaak oor hoe om die brood perfek te bak. Cindy Rabe, Jool HK van Lillium, het agterna gesê dat dit ‘n belewenis was om daar te wees.

Rabe het ook ‘n vloerkompetisie gehou om die hele koshuis by hierdie projek te betrek. Vloer tien het die kompetisie gewen deur die meeste brode in te samel. Elke meisie van dié vloer het ‘n 187ml-bottel vonkelwyn met komplimente van Oxford gewen. Tessa van Rooyen en Nelia Brummer het die meeste brode in die koshuis ingesamel. 

Tesame met die 173 brode wat deur die koshuis ingesamel is, het die tien baksters nog 20 vars brode by die getal gevoeg en Lilium het opgewonde 60 brode aan die Tshwane Bramley Children’s Home oorhandig. “Wat ‘n vreugde om soveel dankbare gesiggies te sien!” het Rabe gesê.

Marabastad was volgende aan die beurt en die dames het ook oral in die strate van Pretoria van die brode aan haweloses uitgedeel. Vir baie minderbevoorregtes is dit nie ongewoon om honger te gaan slaap nie en daarom het hulle die hulp van Lillium met ope arms ontvang.

Die dames van Lilium was nie daarmee tevrede om net in hul onmiddellike omgewing ‘n verskil te maak nie en wou ook die Zimbabwiërs se las ligter maak. Die ambassade het egter geweier dat Lillium daar brood uitdeel, omdat hulle nie Zimbabwiese burgerskap besit nie. 

Dit wil gedoen word om te midde van die  Serrie-harwar tyd vir liefdadigheid te maak . Dit wys net dat ‘n mens nooit te besig is om vir ander te gee nie.

Website | view posts