VERSLAGGEWER
Die aand voor `n belangrike onderhoud besluit `n begaafde student om saam met sy twee beste skoolvriende sy 21ste verjaarsdag te vier.
Die drie vriende, vertolk deur die akteurs Justin Chon, Miles Teller en Skylar Astin, se partytjie-aand lei egter tot onbeheerbare gevolge.
Miller (Teller) en Casey (Astin) verras Jeff Chang (Chon) op sy 21ste verjaarsdag en oortuig hom om saam met hulle te kuier. Jeff stem in en neem die kuierplekke op horings met sy nuwe 21-jarige vryheid. Wanneer Jeff bewusteloos is besef sy vriende dat hulle nie weet waar hy bly nie. Die aand ontaard in `n soektog na Jeff se huis, wat lei na avontuur op avontuur. Die meeste van die avonture is basies gebeure wat mens sal verwag van die The Hangover skrywers: vernederende situasies, `n aggressiewe student van wie niemand van onstlae kan raak nie (Jonathan Keltz) tot `n mooi meisie wie oë het vir Casey (Sarah Wright).
Miller en Casey vermaak die gehoor met hulle soektog na Jeff se huis en ontdek hulself in die proses. Die meeste van die karakterontwikkeling vind plaas wanneer die drie hulle hartsake aan mekaar ontbloot. Tussen al die mannewales besef Miller en Casey dat Jeff persoonlike probleme het en, soos dit uitdraai, hulle twee ook.
Die aksie gaan voort met Jeff wat die oggend by die huis moet wees voordat sy pa, Francois Chau, hom oplaai vir sy onderhoud. Die spanning loop hoog wanneer konfliksituasies met Jeff se pa en aggressiewe studente voorkom.
21 and Over is `n universiteitsgebaseerde, een-avontuurlustige-aand komedie wat jongmense se aandag sal trek. Die skrywers van The Hangover, Jon Lucas en Scott Moore, maak hul merk as regisseurs in 21 and Over en druk hulle kenmerkende stempel op die film af. Tussen die komedie, aksie en ander eskapades rondom die drie vriende, bring die skywers ook die waarde van vriendskap na vore.
Hierdie fliek sorg vir `n giggelende gehoor, met onvergeetlike gebeure waarvoor daar skaamteloos gelag kan word. Die fliek is pront-uit en redelik voor-die-hand-liggend, maar met `n bietjie diepte en gebeurtenisse wat nie alledaags is nie.
21 and Over is `n “mini-The Hangover” fliek wat sy teikenmark sal vermaak. Die sentimentele boodskap van vriendskap gee diepte aan die fliek, maar onderdruk deurgaans nie die komedie nie.
BEVINDING: 5/10
Image: concertposter.org