Leuens, kamera, aksie

by PDBY Staff | Aug 23, 2011 | News

MAGDALEEN SNYMAN

 

 Daar is min dinge so lekker soos om jouself vir `n uur of twee in `n goeie fliek te verloor. `n Bietjie verbeelding maak vir `n lekker storie, maar soms rek Hollywood die waarheid net te ver. Perdeby het besluit om `n paar van die algemene leuens wat flieks as waarheid aanbied vir julle oop te vlek.

Keer die vliegtuig!

Die liefde van sy lewe het na `n tranerige totsiens lughawe toe vertrek om na die ander kant van die wêreld te vlieg. Met net genoeg tyd oor om haar te vang soos sy haar kaartjie laat skeur, besef die held dat sy die een vir hom is. Hy hardloop deur die skare, veg met sekuriteit en gooi tasse uit die pad tot hy haarkansien. In die werklikheid hardloop mense baie selde in lughawens, nie net omdat daar skare mense is nie, maar ook omdat dit redelik verdag sal lyk. Sekuriteit is ook heelwat beter opgelei as wat die flieks voorgee, gewapen, en daar is meer as een van hulle om jou vas te keer.

“Speak now or forever hold your peace…”

Die enigste tyd wat `n mens iemand kan keer om met die verkeerde persoon te trou is die paar sekondes nadat die predikant dié bekende sin ge-uiter het. In die werklikheid het haar pa duisende betaal vir die rok, die blomme en die onthaal. Familie en vriende het kilometers gery om by die seremonie te wees en dit mag dalk net jou toekomstige skoonouers ontstel as jy die hele gedoente omver gooi. As jy regtig die bruid of bruidegom wil keer “om die grootste fout van hulle lewe te maak”, behoort daar meer as genoeg geleenthede te wees om `n  minder dramatiese gesprek te hê lánk voor die seremonie.

Jou boek, sy hand…

Wanneer jou boeke op die grond val sal die ou of meisie op wie jy verlief is skielik verskyn en jou help om dit op te tel. Julle sal die laaste boek gelyk probeer optel en soos julle hande raak sal julle oogkontak maak en bloos.

In die werklikheid is studente haastig en het nie tyd vir boeke help optel nie, omdat hulle gesukkel het om parkering te kry en dus klaar laat is. Jou selfoon en taak wat jy net-net betyds gedruk het sal deur die lug trek, kennis maak met `n plas water en dan vuil getrap word deur `n groot groep mense. Jykannie jou taak met `n nommer nege skoenafdruk as voorblad ingee nie, so jy mis klas om nog een te gaan druk om in te gee, en oppad huis toe besef jy dat jou selfoon nou vries wanneer jy op Facebook gaan.

Sy been is gebreek? Gee hom CPR

As dit by flieks kom, werk CPR vir alles, van motorongelukke tot longontsteking. Volgens flieks moet `n gespierde lewensredder `n slagoffer net `n soen vol asem gee om hulle te laat wakker word. Die waarheid is egter dat CPR werk deur suurstof in die longe in te forseer en soms die hart weer ritme te gee, maar wanneer die persoon klaar bewusteloos is, gaan dit geen effek hê nie. Verder is CPR nie so lekker soos dit op die grootskerm lyk nie. In baie gevallekandie slagoffer se bors beseer, sy ribbes gekraak of selfs die longe beskadig word, en die prosedure werk slegs in 4% van alle gevalle.

Skiet my, maar net nie in die bors nie

As jy al ooit `n aksie-fliek gekyk het, is jy seker onder die indruk dat solank die koëel jou arm of been tref jy nie net sal oorleef nie, maar `n oorlogswond letsel sal hê om vir almal te wys. Die waarheid na `n skietvoorval is egter dat dit senuwees beskadig watkanlei daartoe dat jy nooit weer jou arm behoorlikkangebruik nie. Studies wys dat party gevalle waar iemand in die been geskiet is, lei dit tot lewensbedreigende bloedverlis, weens al die are wat bo die knieskyf verby loop. Dus, die enigste plek waar jy geskiet kan word sonder om langtermyn gevolge te hê is die boud, waar geen belangrike senuwees voorkom nie en daar `n lekker laag vet is om die koeël te rem.

Net sekondes om die wêreld te red

Daar is `n bom wat gaan ontplof en soos wat die fliek aangaan word die sekondes al hoe minder. Na gevegte en roekelose bestuur van formaat kom die helde uiteindelik op die bom af. Vyf, vier, drie, twee, knip! Die goeie ouens wen! Maklik nè? Ongelukkig het bomme in die werklikheid nie horlosies op wat met `n angswekkende getik die sekondes aftel nie. Baie bomme het ook nie drade wat geknip moet word nie en meeste mense is slim genoeg om nie hulle bomme in `n groot kapsule in die vyand se hoofkantoor op te stel nie.

Illustrasie: Gustav Reyneke

Website | view posts