MINNETTE NIEUWOUDT
Of jy van Mills & Boon romanse hou, of meer in die outobiografie van ‘n staatsman belangstel, lees is ‘n verrykende ervaring. Party studente lees vir ontspanning en ander lees omdat hulle moet (vra maar vir enige BA-student.) Hoe dit ook al sy, lees verbreed jou kennis en insig. Hoeveel gesprekke word nie beslis met “ek het êrens gelees dat…” nie? Hier volg Van Schaik Boekwinkel se algemene Top 10 boeke vir Oktober.
The Power deur R. Byrne
Wil jy graag eendag skatryk wees? Wil jy graag ‘n huisie op die Franse Riviera en ‘n seiljag op die Middellandse see besit? Of dalk ‘n volledige stel Louis Vuitton tasse? The Power sal jou wys hoe om jou drome te verwesenlik. Elke ontdekking, uitvindsel of skepping kom van The Power. Kan jy raai waar hierdie bonatuurlike krag vandaan kom? As jou antwoord “van binne myself” is, verstaan jy reeds die crux van die boek.
Lost Symbol deur Dan Brown
Robert Langdon, die karakter wat Tom Hanks in die gewilde Da Vinci Code-filmreeks vertolk, is hierdie keer in Washington D.C. Hy kry ‘n grusame uitnodiging wat hom op ‘n avontuur deur die stad stuur. Geheime, intrige en misterie – Lost Symbol het dit alles.
House Rules deur Jodi Picoult
‘n Tiener wat ongemaklik in sosiale omstandighede is, is nie nuus nie. Wanneer hierdie tiener aan Asperger-sindroom lei en gevolglik van moord verdink word, raak dinge skielik baie interessanter. Jacob Hunt se snaakse maniërismes en onvermoë om oogkontak te maak lyk vir die polisie baie soos die tekens van ‘n skuldige gewete. Die vraag is egter: is Jacob tot moord in staat?
The Girl who played with Fire deur Stieg Larsson
The Girl who played with Fire is die tweede roman in die befaamde Millennium-trilogie. Lisbeth Salander word verdink van die moord op twee Millennium joernaliste. Sy word deur die polisie agtervolg, maar die hoofredakteur van Millennium glo sy is onskuldig. Mikael Blomkvist probeer om Lisbeth se onskuld te bewys, maar Lisbeth is nie een om sommer te gaan lê nie.
Eat, Pray, Love deur Elizabeth Gilbert
As jy nog nie van hierdie memoir gehoor het nie, was jy miskien in ‘n tydkapsule vir die afgelope jaar of wat. Elizabeth Gilbert is ‘n vrou op ‘n missie. Haar lewe lyk rooskleurig van buite af, maar binne is ‘n leemte. Gevolglik laat sy alles agter om vir ‘n jaar lank deur Italië, Indië en Indonesië te reis op soek na plesier, toewyding en balans.
The Girl with the Dragon Tattoo deur Stieg Larsson
Voordat jy nommer vier op hierdie lys lees, moet jy eers The Girl with the Dragon Tattoo lees. ‘n Jong meisie verdwyn veertig jaar vantevore op ‘n eiland in Swede. Haar oom vermoed onheil en kry Lisbeth Salander en Mikael Blomkvist in om die saak te ondersoek. ‘n Paar sensitiewe ontdekkings later en die twee helde word vervolg. Die vervolgers is niemand anders nie as die ander lede van die meisie se familie.
Private deur James Patterson
Nadat Jack Morgan van die oorlog in Afghanistan terugkeer, heropen hy sy pa se privaatspeurdersfirma. Jack is doelgerig en vasberade om die firma se aktiwiteite volgens die lettertjie van die wet af te handel. Sy doelwit raak egter moeilik wanneer die Mafia aan sy deur klop. Die kersie op die koek is natuurlik die reeksmoordsaak waarin die Los Angeles polisiedepartement sy firma betrek. Moet ook nie van die moord op sy ou skoolvriend se vrou vergeet nie. Jack het sy hande vol by Private.
Committed deur Elizabeth Gilbert
Committed sluit aan by Eat, Pray, Love. Elizabeth Gilbert ontmoet vir Felipe in Indonesië waarna hulle besluit om na die VSA te trek. Hulle belowe mekaar dat hulle nooit op ‘n wetlike manier sal trou nie. Wanneer die VSA se streng burgerskapwetgewings dreig om hulle te skei, moet trou heroorweeg word. Committed is Elizabeth se reis deur die komplikasies van liefde en die harde werklikheid van volwasse verhoudings.
The Secret deur R. Byrne
The Secret loop hand aan hand met The Power. Die geheim om al jou doelwitte te bereik is binne-in jouself. Deur die geskiedenis het ‘n klomp prominente figure reeds die geheim geken en nou bewys selfs die wetenskap dat dit werk. Dié praktiese kennis beloof om lesers te leer hoe om hul wêreld te bemeester.
Fighting for Justice deur Jay Naidoo
Jay Naidoo se lewe lees soos ‘n boek. Letterlik. Hierdie outobiografie is egter nie ‘n roman van die tradisionele soort nie, maar ‘n harde blik op Apartheid, sosiale geregtigheid, politieke aktivisme sowel as ras- en taalskeidings. Naidoo vertel van sy lewe as Apartheidsbevegter, sy ontmoeting met Steve Biko sowel as sy rol as die eerste Algemene Sekretaris van COSATU