Laurie Levine: Six Winters

by PDBY Staff | Aug 29, 2011 | Entertainment

CHRIS VAN DER MERWE

Die Suid-Afrikaanse folk-musiektoneel het `n vêr pad gekom. Kunstenaars soos Holiday Murray en Fulka het gesorg dat hierdie genre `n skielike oplewing in die plaaslike musiekmark beleef. `n Kunstenaar wie egter soms van vergeet word wanneer daar van goeie folk-musiek gepraat word, is Laurie Levine. Levine speel al `n hele ruk `n rol in die plaaslike musiekbedryf en het onlangs haar derde vollengte album, Six Winters, uitgereik.

Die album skop af met die sentimentele “Oh, Brother”. Sommer van die begin af hoor mens dat Levine baie emosie deur haar lirieke uitstraal. Die baskitaar in die agtergrond voeg `n moderne klank by die andersins outydse klank.

Snitte soos “Six Winters” en Levine se weergawe van Johnny Cash se “Ring Of Fire” bewys ten volle die stembegaafdheid van Levine, asook haar vermoë om hierdie genre haar eie te maak.

As jy nog nie die hartseer in haar liedjies kon aanvoel nie, gaan jy dit beslis in “I Won’t Ask Him Why” kan hoor.

Die lirieke van die album mag dalk eentonig klink, maar Levine se kreatiwiteit kom na vore in snitte soos “Stray”. Die viool wat in die kort pouse tussen die verse speel gee die liedjie `n byna spookagtige gevoel.

Levine sing egter nie net die heeltyd oor haarself en haar gevoelens nie. `n Definitiewe hoogtepunt van die album is “Beautiful Losers” wat handel oor hoe ons almal uniek en pragtig is, ondanks wat mense dalk mag dink of sê. Hierdie boodskap is al afgewater en het in `n effense cliché verander, maar min mense kry dit reg om dit soos Levine oor te dra. Soos dit die laaste snit op die album betaam, is “So Long Farewell” een van die bestes.

Daar is baie verskillende opinies oor die dinamiek van `n album. Die album verander nie regtig veel van tempo nie, maar dit is steeds `n lekker luisterervaring. As jy `n aanstaander is van Norah Jones se musiekstyl, die lirieke van Katie Melua en, durf dit gesê word, Adele se vokale vermoë, dan is Laurie Levine se nuwe album net die ding vir jou.

Website | view posts