MARELIZE MYERS
Die meeste studente het nuwejaarsvoornemens om van daardie ekstra stukkie kersfeeskoek op hul heupe ontslae te raak. TSG bied jaarliks ‘n Achiever Goal Attainment Weekend Course aan om jou te help met die basiese stappe wat jy moet neem om jou oefendoelwitte te bereik. Hierdie kursus fokus op die verstandelike sy van doelbereiking en sluit motiveringspraatjies asook inligting oor basiese dieetgewoontes en oefeningsfisiologie in. Dis hier waar jy ook met verskillende oefeningswyses vertroud kan raak en ‘n basiese program wat spesiaal vir jou individuele behoeftes ontwerp is, kan kry.
Die kursus vind hierdie jaar in Maart, April, Mei, Augustus, September en Oktober plaas en die kostes sal om en by R800 per persoon wees. ‘n Maksimum van 20 persone per naweek word toegelaat.Regdeur die jaar kan jy ook by die Pilatesprogram aansluit. Hierdie tipe oefening fokus op die bewuswording van die liggaam en om in beheer van elke beweging en spier te wees. Sowel balans as asemhalingspatrone en die manier waarop die oefenproses vloei is belangrike beginsels. Bo Hiscox, die fiksheidsentoesias by LC de Villiers-gym staan ook gereed om jou te motiveer om aan aktiwiteite soos liggaamskondisionering, “steps” en “cardio dance” deel te neem.
Liggaamskondisionering is vir diegene wat hul liggame se spierbou wil versterk en wil voorberei om op sportvlak te presteer. Dit sluit ‘n reeks van oefeninge in wat intensief op jou arms, bene en maag fokus.
Die “steps”-program is ‘n kombinasie van trappies klim en knieë hoog oplig. Dit help nie net om vet te verbrand nie, maar ook om na hoër gesondheidsvlakke te beweeg. Die beste deel van hierdie program is dat jy nie atleties hoef te wees om stappie vir stappie jou doel te bereik nie.
“Cardio dance” sluit die gebruik van ligte gewigte, maagoefeninge en dans in. Jy sal aanvanklik eers die bewegings moet snap, maar daarna sal niks jou kan keer om daai oortollige vet te verbrand nie.
Hiscox is ook by die “Fat blast”-program betrokke wat op vetverbranding fokus terwyl jy dit gate uit geniet. Die goeie nuus is dat jy self jou vlak van deelname by jou vlak van fiksheid kan aanpas.
TSG op LC de Villiers is Maandae tot Donderdae van 06:00 tot 21:00 en Vrydae van 06:00 tot 20:00 oop en sluit ook nie hul deure vir die fiksheidfanatici wat op Saterdae tussen 08:00 en 12:00 spiere wil pomp nie.