Koshuis prestige-aand

by PDBY Staff | Oct 21, 2009 | Uncategorized

MARELIZE MYERS

Dis weer daardie tyd van die jaar wanneer die koshuise óf mekaar met venynige oë aankyk óf hul koshuisdrag met meer trots dra óf hul drank daarop uitmors om ‘n verskoning te hê om iets anders aan te trek.

Op Donderdag 9 Oktober was dit die jaarlikse koshuisprestige-aand en ten spyte van die swak klank kon ‘n mens darem hoor dat Madelief en Mopanie die Koshuise van die jaar-toekennings ontvang het. Dit het ‘n bietjie soos déjà vu gevoel, aangesien Mopanie verlede jaar ook stof in die ander manskoshuise se oë geskop het. Madelief en Maroela het weereens nie teleurgestel nie en het met die Jool-toekenning weggestap.

Kultuurkoshuis van die jaar het aan Magrietjie en Olienhout gegaan en die dames van Curlitzia is sonder twyfel heel ingenome dat hulle steeds met pliggie-gesigte kan rondloop met die toekenning vir Akademiese koshuis van die jaar. Tog het Curlitzia gewys dat dit nie al is wat hulle kan doen nie. Hulle het ook die Tesourier-toekenning saam met Boekenhout ontvang.

Madelief en Katjiepiering deel die sporttoekenning vir die meisies, terwyl die manne van Boekenhout gewys het dat hulle die spiere het om dié toekenning te kan dra.

Die algmene indruk van die aand was dat dit nie goed georganiseerd was nie en baie het die hoop dat dit volgende jaar ‘n groter en glansryker gebeurtenis sal wees.

Website | view posts