ZENNA MULLER
Die jaarlikse TuksStoei Challenge toernooi is op Saterdag 9 Februarie in die Rembrandtsaal op die UP Sportkampus gehou.
Die toernooi was geskeduleer om 09:00 te begin, maar as gevolg van onbeplande onderbrekings en die webblad se aanlyninskrywingstelsel wat Donderdagaand ineengestort het, kon die kompetisie eers teen 10:45 begin.
Ockie Pienaar, `n Tuks stoeier, het aan Perdeby gesê dat daar tegniese probleme met die drukkers was. Pienaar het bygevoeg dat hierdie probleme `n uitsondering was en dat TuksStoei se toernooie gewoonlik stiptelik is en glad verloop.
Die toernooi se organiseerders was self nie beïndruk met die verloop van sake nie. Volgens Pienaar was daar ook `n botsing met SA Stoei se reëlings vir verpligte opleidingskursusse vir beamptes van sekere provinsies, nadat die datum van die toernooi reeds vasgestel is.
Die Challenge toernooi is een van die grootstes landwyd (nou ook internasionaal) en is ook die eerste kompetisie op die stoeikalender. Klubs regoor die land is uitgenooi om aan die toernooi deel te neem en ongeveer 430 stoeiers het teen mekaar te staan gekom.
`n Turkse stoeispan het ook aan die kompetisie deelgeneem.
Stoeiers neem deel in verskillende gewigskategorieë waarin hul met verskeie style soos Grieks-Romeins (slegs bo-lyf stoei waar geen beenaanvalle toegelaat word nie) en vrystyl kompeteer.
Elke wedstryd bestaan uit drie rondtes van twee minute elk, met `n 30-sekonde breuk tussen-in. Die deelnemer wat die meeste punte tydens die rondtes kry, wen die wedstryd en beweeg na die volgende rondte toe. Die uiteindelike wenners word dan in `n eliminasierondte beslis. Medaljes is aan die eerste drie plekke in elke gewigskategorie toegeken.
Tuks het twee eerste plekke en een tweede plek in die junior vrystylafdeling behaal. Vier eerste plekke, een tweede en een derde plek is in die senior vrystylafdeling behaal. In die senior Grieks-Romeinse-afdeling het Tuks `n eerste plek in die 55-60kg kategorie behaal.
Pienaar het aan Perdeby gesê dat hulle na elke kompetisie beter probeer doen as in die vorige een en hulself so toets.
Photo: Brad Donald