CHRIS VAN DER MERWE
Grappe – dit kan of een van die snaakse ervaring van jou lewe wees of dit kan twee minute van jou lewe mors. Vandeesweek kyk Perdeby na goeie en slegte grappe in `n klassieke Rad vs Sad.
RAD!
Grappe as mens dronk is. Kom ons lieg nie vir mekaar nie: as jy uit is saam `n klomp vriende en jy’t meer as `n paar biere agter die blad, is als wat gesê word eintlik snaaks. Die volgende oggend as mens terug dink, is dit egter nie meer so snaaks nie.
Grappe as mens verveeld is. `n Groep mense, met niks om te doen nie, sit en wag vir iets opwindend om te gebeur. Ewe skielik sê Pieter Lombaard iets en, in `n oogwink, het alles in die wêreld klaarblyklik gelei tot daardie grap. In die paar minute wat volg word daar gelag, gehuil en party mense se dag word gemaak.
Van der Merwe-grappe. Enigiets wat van 1652 af kom en nogsteeds snaaks is, behoort in die rekordboeke geplaas te word. Van der Merwe-grappe is gewoonlik spontaan, negentig persent van die tyd oorspronklik en meeste van die tyd snaaks.
Grappe by Oppikoppi. Oftewel, meer snaakse gebeurtenisse as grappe, maar grappe ook somtyds. Wanneer ookal iemand na jou toe kom met `n eenvoudige vraag soos, “Weet jy dalk waar my tent is?” of iets in die lyn van “Hoe kry mens `n non swanger?”, is loop net te veel vir `n sterfling om te hanteer.
SAD!
Chuck Norris grappe. Okay, so Chuck Norris is `n akteur wat op `n Sondag, laat aand op E-TV verskyn het. Wanneer was dit aanvaarbaar vir ewekansige akteurs om in alledaagse grappe te verskyn? Op die einde van die dag, gee bitter min mense om of die Walker Texas Ranger-ster kan MXit op `n publieke foon, ensovoorts.
Vernon Koekemoer grappe. Vernon Koekmoer is gelyk aan die Suid-Afrikaanse Chuck Norris. Met ander woorde, neem al die bogenoemde in ag en dan is dit omtrent alles van toepassing op Vernon Koekemoer grappe. Dit is `n man, in `n onvanpaslike kortbroek en `n moulose hemp, vraagteken.
Rasistiese grappe. 1994 het gekom en gegaan. Sewentien jaar later is Suid-Afrika in sommige aspekte heeltemal oor dit en sommige aspekte nie eers amper nie. Rasistiese grappe val in die heeltemaal-oor-dit klas. Kom nou mense, ons is tog 17 jaar terug al verby dit.
“Yo Mamma” grappe. Nog … nooit … snaaks … nie. Dit het aanvanklik begin as `n manier vir jong Amerikaners om tyd te verdryf in `n lang, vervelige en puntlose lewe maar dit het geëindig as `n manier vir sommige jongelinge om `n sosiale sirkel te betree. Nee. Net nee.
“Knock knock” grappe. Hierdie vorm van humor is ook lankal nie eintlik meer snaaks nie. So dit volg `n fiktiewe storielyn en aan die einde van die grap het jy nie eintlik veel opgelewer nie. Hoekom?
Illustrasie: Michael Stopforth