DAVID STEYN
In haar sesde studio-album stel Karen Zoid weereens nie teleur nie. Dit is die eerste keer wat sy `n vollengte album met slegs Afrikaanse liedjies die lig laat sien.
Jy voel nie noodwendig dadelik tuis sodra die eerste note begin speel nie, maar as jy eers haar stem hoor voel dit of niks uit plek uit is nie. Zoid Afrika is kenmerkende Karen Zoid, maar met `n oorspronklike baadjie aan. Alhoewel die lirieke meer repeterend en minder rou is as op Poles Apart en Media bly die snitte sterk in haar styl. Die album het `n goeie balans tussen sagter en harde snitte. Dit kan as `n love-song album met politieke en sosiale kommentaar as ondertoon beskryf word.
Saam met die CD kry aanhangers ook `n DVD met Die Storie Agter Die Songs en twee live optredes op. Op die album verskyn daar `n snit, “As musiek begin speel”, wat blykbaar vir haar kind geskryf is. Hierdie liedjie bewys weereens dat Zoid die vermoë het om suksesvolle persoonlike werk voort te bring, sonder om in kommersialiteit of rou ruk-en-rol te verdwyn. “Waansin” en “Goeiemore optimiste!” is onderskeidelik die ernstige en satiriese weergawes van sosiale kommentaar wat nie ongewoon is op `n Zoid-album nie. “Terug na Babilon” en “In Suid-Afrika” is bewyse van haar veelsydige stem en haar fyn musikaliteit. Die bonussnit is `n liedjie uit die pen van Bruno Andries, die wenner van Litnet se liedjieskryf kompetisie, SingIt.
Die album, wat by Sunset Recording Studios in Stellenbosch opgeneem is, is gevul met tipiese Henry Steele kitaarspel, terwyl Tim Rankin dromme speel. Die byklanke en agtergrondstemme is uniek aan Zoid se studiowerk en skep `n musikale diepte wat net op haar albums gehoor kan word. Met Zoid Afrika het sy `n unieke hoogtepunt in haar loopbaan bereik. Die lirieke weerspieël waar sy vandaan kom en waar sy op die oomblik is.
BEVINDING: 8/10
Die album word op `n landswye toer, wat in April begin, bekend gestel. Hou Perdeby se Events Guide dop vir meer inligting oor die Zoid Afrika toer en optredes in Pretoria.
Beeld: www.karenzoid.co.za