MIGNON PEENS

Is jy een van diegene wat selde kan klaarkom sonder jou daaglikse koppie koffie? Volgens `n studie wat deur die Virginia Commonwealth Universiteit en die New Scientist tydskrif gedoen is, is kafeïen die gewildste psigoaktiewe stof ter wêreld en affekteer dit dieselfde dele van jou brein as kokaïen.

Japanse navorsers het bevind dat kafeïen `n natuurlike antidepressant is, jou geheue opskerp, as `n libido dien, jou metabolisme versnel, haargroei stimuleer, spierpyn verlig, kankers en Alzeimers afweer en propvol antioksidante is. Deesdae is kafeïen selfs `n bestanddeel in sommige dieetpille, sjampoes, lip- en lyfrome en sepe.

Ongelukkig is kafeïen nie nét maanskyn en rose nie. Jou Desembervakansie is nou iets van die verlede, jou werk gaan binnekort soos `n berg voor jou lê, jy het swot en kuier op jou agenda en energieopwekkers onder studente raak meer en meer gewild by die dag. `n Tweedejaar BCom Rek student, Tamarin Peterson, sê: “Na laasjaar se eindeksamen kort ek nou drie koppies koffie `n dag al sit ek net rond en niks doen nie, en tydens die eksamen moes ek omtrent twee blikkies Volt drink net om wakker te bly.”

So, hoe gevaarlik is `n blikkie Red Bull, Power Play, Monster, V, Coca-Cola en so voorts nou eintlik vir jou? Wel, die Suid-Afrikaanse Minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, het voorgestel dat energiedrankies wat meer as 150g kafeïne per liter bevat, min of meer dieselfde waarskuwing as `n sigaretboksie moet op hê. Daarom is dit belangrik om te onthou dat jou kafeïengewoontes `n bedreiging vir jou gesondheid kan inhou.

Kafeïen stimuleer die serotonien-afskeiding in jou brein wat gemoedelike buie, woede en aggressie reguleer. Sodra jou serotonienvlakke daal, het dit onttrekkingsimptome soos naarheid, hoofpyne, irritasie, swak konsentrasie en angstigheid en kan dit jou moontlik lei op `n gevaarlike pad na kliniese depressie. Heel verbasend, bevat `n blikkie Red Bull dieselfde hoeveelheid kafeïen as `n koppie koffie en daarom kan jy maar af en toe een drink sonder om enige ernstige newe-effekte te kry, sê Vanessa Kotse, `n dieetkundige by die Universiteit van Pretoria. Sy het ook gewaarsku teen gereelde inname, aangesien jou liggaam weerstand daarteen opbou en dan is die kanse dat jy die daaglikse porsie van 300mg sal oorskry baie meer waarskynlik. Ander mense, wat minder sensitief is, kan weer tussen 400mg tot 600mg per dag inneem sonder newe-effekte.

Kafeïen is nie die enigste bestanddeel in energiedrankies wat `n mens se liggaam negatief kan beïnvloed nie. Volgens Sunita Potgieter, `n dosent in terapeutiese voeding by die Universiteit van Stellenbosch, bevat hierdie energiedrankies `n groot hoeveelheid suiker wat kan lei tot `n toename in gewig en bymiddels soos vitamiene B, aminosuur, taurine, glukose en kruiebestanddele. Die langtermyngevolge is nog nie vasgestel nie, maar kardiale komplikasies kan een van hulle wees.

Steve Clarke, `n direkteur by `n alkoholmisbruik voorkomingsentrum, het gesê dat studente met vuur speel indien hul alkohol saam met kafeïen gebruik omrede dit dehidrasie meebring en dikwels veroorsaak dat mens te veel drink. Clarke sê ook dat omdat die een `n stimulant is en die ander `n depressant, stuur dit verkeerde boodskappe na jou sentrale senuweestelsel wat ernstige kardiale probleme kan veroorsaak.

Afgesien van alkohol, kan `n oordosis kafeïen simptome soos naarheid, braking, diarree, maagseer en hoofpyne meebring. Verder begin mens flikkerende ligte sien, jou ore begin lui, jy begin hiperventileer en jy mag spierkrampe ondergaan.

Die kern van dié artikel is nie noodwendig dat kafeïen goed of sleg is nie, maar eerder dat ons is wat ons eet. Enige iets wat jou liggaam in oormate inneem is onvermydelik sleg vir jou.

Image: Wikimedia.org

Website | view posts