Jou gids tot koshuislingo

by PDBY Staff | Jan 21, 2010 | Uncategorized

ELAINE SWANEPOEL

 Koshuismense is ‘n vreemde spesie en het selfs hul eie kodetaal waarvolgens hulle koshuisgebruike beskryf. Om verwarring van die ergste graad te voorkom, is dit nodig dat jy hierdie gids sal lees. Nie net sal dit jou help verstaan wat aangaan nie, maar dit sal ook voorkom dat jy jou naam met ‘n plank slaan.

 

Jottir: Wit polistireen-hoedjie met ‘n groen lint om wat deur Madelief-eerstejaars saam hul ienkdrag gedra word. Dit is die doel van al die koshuise om te kyk hoeveel jottirs hulle kan steel en Mopanie se doel om hierdie jottirs te beskerm – aangesien hulle die rekord hou van die meeste jottirs in een jaar gesteel.

Knolle: Madelief-eerstejaars

Spikkels: Magrietjie-eerstejaars

Welpies: Klaradyn-eerstejaars

Slurpies: Jasmyn-eerstejaars

Knolle: Madelief-eerstejaars

Spikkels: Magrietjie-eerstejaars

Welpies: Klaradyn-eerstejaars

Slurpies: Jasmyn-eerstejaars

Sterretjies: Asterhof-eerstejaars

Peppies: Mopanie-eerstejaars

Nergies: Vividus-eerstejaars

Tiertjies: Kiaat-eerstejaars

Jarre: Algemene term vir eerstejaars van koshuise sonder inisiatief.

Ienkdrag: Eerstejaars van elke koshuis het ‘n unieke uitrusting wat hulle op ‘n spesifieke dag moet aantrek. Dit is gewoonlik in ooreenstemming met die kleure van die koshuis.

Jockrun: ‘n Tradisie in Mopanie waar die mans na al die dameskoshuise hardloop en vir hulle sing … in klein blou onderbroeke. Dit is ‘n skreeusnaakse affêre en iets wat jy definitief nie wil misloop nie.

Eerstejaarsindroom: Dit is nie ‘n mite nie! Die een oomblik pas jou jeans jou nog en die volgende oomblik … uhm wel, dan weet jy om minder tyd in die eetsaal en meer tyd in die gim deur te bring. Eerstejaarsindroom is die dramatiese optel van gewig wat eerstejaars ondervind en kan drastiese gevolge hê as dit nie goed dopgehou word nie.

Kollegetehuis: Die oudste koshuis op Tuks en die berugste vir hulle eindelose partytjies en skelmstreke.

Mascot: Elke koshuis het een. Dis gewoonlik ‘n standbeeld aan die voorkant van die koshuis wat gedurig deur ander koshuise gesaboteer word. Lang trane is verlede jaar gestort toe iemand Asterhof se twee kameelperdjies afgesaag het.

Sarge Burk: Kollege se mascot. Maak seker dat jy ver wegbly van hierdie man af of jy mag dalk net in Kollege se berugte glaskas beland.

Maroolsie: Maroela se mascot. Tensy jy lus is vir ‘n swem in Maroela se groen swembad, moet jy onder geen omstandighede aan hierdie standbeeld raak nie.

Sleep: ‘n Mans- en dameskoshuis wat saam op ‘n uitstappie gaan.

Sluiper: Hierdie persone weier om aan enige koshuisaktiwiteite deel te neem, of dit intern of ekstern is. Hierdie portefeulje is nie ‘n prestasie nie en moet ten alle koste vermy word, aangesien niemand van ‘n sluiper hou nie en jy op soveel pret sal uitmis.

HK of Huiskomitee: Jou baas vir die volgende ses maande. Hierdie 12 lede sorg dat als in die koshuis vlot verloop. Hulle is egter nie so vreesaanjaend soos wat hulle voorkom nie en jy sal gou uitvind dat hulle blaf baie erger as hulle byt is.

Houte: Die manne van Olienhout.

Gat: Taaibos se berugte gang. Moet liefs nie hierdie manne ontstel nie of jy mag jou dalk net in ‘n baie ongemaklike posisie bevind.

Pssst: Dit wat elke koshuis vrees: om in Perdeby se skinderkolom te verskyn. Pssst is oral en altyd op soek na die nuutste koshuisskandaal. Wees versigtig want jy weet nooit wanneer Pssst naby is om te sien hoe jy jou koshuis se naam in die skande steek nie.

Ontheffing: Iets waarvan jy as eerstejaar maar net kan droom. Dit is wanneer jy van al jou pligte en beperkings as eerstejaar verlig word. Hierna is jy ‘n vry mens. Ontheffing vind egter eers in Julie plaas – of as jy in Sonop is, eers aan die einde van die jaar.

Raid: Wanneer een koshuis die ander beverf, bemors of besteel. Erika se blad en Klaradyn se leeus is gewilde teikens.

Zef-troue: Dit vind plaas tussen ‘n mans- en dameskoshuis wat saam jool. Die onderskeie koshuise kom in die Square bymekaar om te sien hoe hul voorsitter en primaria die knoop deurhaak. Die doel is om so mal as moontlik aan te trek en jouself gate uit te geniet.

Website | view posts