MINNETTE NIEUWOUDT
“Sex Pistols het hulle eerste gig vir soos twee mense gespeel – ons sal maar ons 700ste vir so 14 mense speel,” grap Andre Leo. Die voorsanger van The Pretty Blue Guns kon nie sy teleurstelling in die grootte van die skare wegsteek nie. Met 52 bands, vyf klubs en twee dae was Joburg Burning hierdie keer “groter” as ooit. Of so sê hulle.
Roxy Rhythm Bar het die agtergrond vir meeste van die groot bands verskaf. Die verhoog herinner Pretorianers aan Zeppelin’s se Pretoriusstraat-venue met ‘n boonste verdieping om jou gunstelinggroepe van hoër hoogtes te aanskou. Die lewensgroot helikopter wat tussen die verhoog en die tweede verdieping hang en die uitspattige bierpryse (R17,50 vir ‘n Castle Light) laat feesgangers gou besef dat hulle in een van die meer gesogte kuierplekke in Melville is. Op Vrydagaand het EvolverOne die skare by Roxy’s aan die gang gehad en Saterdagaand het groepe soos Fire Through the Window, Tidal Waves en 340ml ook so gemaak.
Diegene wat meer van harde musiek hou het eerder in ‘n taxi gespring om na The Bohemian te gaan. Die taxi’s is by kaartjiepryse ingesluit en het vervoer tussen die klubs verskaf. Ook maar goed so, want Perdeby twyfel sterk of ‘n mens dié onopsigtelike plekkie êrens in Parkstraat maklik sal kry. Pretoria se Pity the Fool het Saterdagaand daar opgetree en dit lyk of hulle ‘n wye teikenmark het. Seuntjies wat minderjarig gelyk het, het langs ‘n klomp meisies met kleurvolle tights gedans – en moet nie van die middeljarige oom in die hoek vergeet nie!
Die muurskildery van die Johannesburg-skyline het die pas aangegee by Jozi G Spot. Rustiger, meer akoestiese groepe soos Thomas Krane en Wrestlerish het Saterdagaand daar gespeel. Vroeër die aand het The Ranks “free hugs” uitgedeel, maar nie eers dít kon die skares lok nie. Teen die tyd wat Alan! Let’s Move On gespeel het, het die skare omtrent verdubbel. Ten spyte daarvan was daar steeds nie 30 mense in die gehoor nie.
Oorkant die pad is Cool Runnings, Melville. Wanner feesgangers die trap na die verhoog toe afklim voel dit asof hulle ‘n ondergrondse bunker betree. Perdeby het hier vir Press OK gaan kyk. Hulle meng ska met ‘n bietjie jazz en hul veelsydige voorsanger, Chris Lesapo, rap tussendeur. Die liedjie “Wastin’ Away” se funky bass line het die gehoor sommer vroeg al op hul voete gehad.
Feesgangers kon ook weer in ‘n taxi spring en die paar kilo’s na Victory Park-inkopiesentrum aflê om by die ander Cool Runnings ‘n draai te gaan maak. Runnings Victory Park is verbasend skoon en ruim. Die mure is in goeie Runnings-tradisie met allerhande psigedeliese wesens versier. Die verhoog het Perdeby aan die Karoo-vlaktes herinner: oop en plat. Dit was dan ook die ligging vir die hoogtepunt van die aand: om die blues-rock groep The Pretty Blue Guns saam met net so ‘n bietjie meer as 20 mense in volle swang te sien. Hul opvoering was vol energie en al 20 gehoorlede het vir ‘n encore van die Stellenbosch groep gevra.
Die skamele skares was egter opmerklik die Saterdagaand. Dis vreemd omdat die laaste aand van ‘n fees gewoonlik die hoogtepunt is. Roxy’s was moontlik die enigste plek waar die gehoor met tye skouer aan skouer gestaan het. Volgens Joburg Burning 4 se Facebook blad is die aantal kaartjies tot 1 500 beperk om te verseker dat die verskillende klubs gerieflik en toeganklik sou wees. Die kleiner skares het egter beteken dat die-hard fans hul gunsteling groepe, wat van ver gekom het, in ‘n intieme situasie kon geniet. Die taxis, alhoewel traag, was net by uitstek oorvol en daar was nie toue by die kroeë nie. Joburg Burning is ‘n gulde geleentheid om Johannesburg se weergawe van die Square te leer ken. Ongelukkig is dit maar ‘n duur spul: R150 vir ‘n kaartjie, R20 vir parkering, R100 vir drankies en nog petrolgeld vir die 120km soontoe en terug is nie lig op ‘n student van Pretoria se sak nie. Miskien is dít die eintlike rede hoekom die mense so yl gesaai was …