Jack Parow: Hier is hy nou

by PDBY Staff | May 17, 2010 | Entertainment

MINNETTE NIEUWOUDT

Die beste manier om Jack Parow te beskryf is in sy eie woorde: “I’m so next level, my f*kken groupies have groupies.” Sy debuutalbum, eenvoudig getiteld Jack Parow, het onlangs die rakke getref.

“Cooler as ekke” en ‘n verwerking van “Die vraagstuk” in samewerking met Die Heuwels Fantasties is reeds aan luisteraars bekend. “Tussen stasies” volg dieselfde formule as “Die vraagstuk” met Pierre Greeff wat die refrein sing en Johnny de Ridder se onmiskenbare invloed op die vervaardiging. Die lys van beroemdes wat saam met Parow aan hierdie album gewerk het sluit in: Francois van Coke, JR en Le-Roi Nel en bewys dat Parow subkulturele skeidings oorbrug.

Liedjies soos “Farmhouse brekfis” en “Feite” neig na suiwer hip-hop terwyl “Dans dans dans” en “Ricky Louw” beslis meer pop is. Dus, te wyte aan ‘n gebrek aan ‘n beter beskrywing, is Jack Parow hip-hop-pop. Dit klink meer soos ‘n tipe kinderspeletjie, maar is beslis net vir groot kinders. Die lirieke, alhoewel skreeusnaaks, is erg seksisties en gepeper met vloekwoorde. “Tussen stasies” en “I miss” is die enigste liedjies wat iets van Zander Tyler (Jack Parow) se broosheid verklap.

In teenstelling daarmee kom sy raps so vlak soos ‘n kiddie’s pool voor. Sy liedjies gaan almal oor brannas, party en poppies. Ten spyte daarvan is dit sy innoverende gebruik van woorde en veral vloekwoorde wat sy raps laat uitblink bo die ander. Dis humoristies en catchy en sal enige jol papnat laat, bra.

Website | view posts