Is jy rad of sad? Toets jouself!

by PDBY Staff | Oct 25, 2010 | Entertainment

MINNETTE NIEWOUDT

Hierdie week se Rad vs Sad fokus op die individue in die samelewing wat die lewe kleurvol maak … Is jy RAD! of SAD! hierdie week?

RAD!

Mense wat …

…persoonlike geskenke gee. Om vir iemand ‘n R100 noot in die hand te stop met hul verjaarsdag is, in die woorde van 7de Laan se Hilda, “tog so verbeeldingloos, hartjie.” Geskenke wat van die hart af kom is stukke beter. Dit wys dat jy jou vriende ken en dat jy die tyd geneem het om iets uit te soek of te maak wat hulle regtig sal waardeer. Karma is ‘n wyfie-hond wanneer dit kom by sulke dinge – kyk maar net wat gebeur met die mense wat nie  SMS’e beantwoord nie.

…op SMS’e antwoord. Gewoonlik wanneer ‘n sin met ‘n vraagteken eindig, word daar ‘n antwoord verwag. Dit is goeie maniere om hierdie antwoord te verskaf as die vraag aan jou gestel is. Perdeby dink dat mense wat op SMS’e reply, afslag op hul selfoonkontrakte behoort te kry. Mense wat nie SMS’e beantwoord nie behoort op ‘n brandstapel geplaas te word. Hulle mag dan ‘n SMS stuur om om  hulp te vra. Ons sal kyk wie dan antwoord…

… hard voorberei vir die eksamens. Op hoërskool is jy ‘n nerd of ‘n geek as jy erken dat jy hard vir ‘n toets geleer het. Eerstejaars spog ook graag oor hoe min hulle klas bywoon en dat hulle dronk eksamen gaan skryf. Hierdie is belangrike lewensfases, maar die waarheid is egter dat die slim ouens die laaste gaan lag. Hulle kry die uitblinkerwerke en die supermodelvrouens terwyl die lui-Lellies agter die kasregister by Spar gaan opeindig. Besluit nou om RAD! te wees en werk hard tydens hierdie eksamen. Jy sal nooit spyt wees oor die episode van Vampire Diaries wat jy moes uitstel om hard te leer as daar “Magna Cum Laude” agter jou graad eendag staan nie.

SAD!

Mense wat…

…na Die Antwoord luister omdat hulle dink dat Die Antwoord regtig kommin is. Soos alles op die radio en televisie vandag, is Die Antwoord ook ‘n bemarkingsfoefie. Dink jy regtig iemand wat nie ‘n ordentlike haarsny kan bekostig nie, weet wat Nutella en sarmies is? Waarskynlik nie. Dink jy regtig iemand wat by Interscope Records ‘n platekontrak het, bly in ‘n karavaan? Waarskynlik nie. So hoekom dink jy Die Antwoord is so kommin soos wat hulle in hul videos voorkom?

…nie op-dress vir  ‘n tema-partytjie nie. Jy het die moeite gedoen om ‘n asemrowende oorspronklike tema vir jou partytjie uit te dink. Jy het die John Cena servette en die Spongebob Squarepants-ballonne gekoop wat by die tema pas. Jy het ‘n Batman-koek en luiperdvel-partytjiehoedjies sorgvuldig uitgekies. Die aand breek aan en ‘n totaal van twee mense het soos hul gunsteling super-held aangetrek. Na al die moeite waardeur jy is, is dit die minste wat jou gaste kan doen om  hulself behoorlik uit te vat. As jy een van daardie mense is wat dink jy is te cool om jou naam 2c te maak vir die pret daarvan … dink weer. Jy is nie. Jy is ‘n slegte gas en gaan waarskynlik nooit weer genooi word nie. Geniet Saterdagaande by die huis, party-pooper!

… board shorts op kampus dra. Hier is ‘n klein toetsie: Gaan kry gou ‘n wêreldkaart of gaan gou op Google Earth. Beantwoord dan hierdie vrae: Volgens hierdie hulpmiddels, is Pretoria naby die see? Is daar ‘n groot dam of ander vorm van watermassa wat net ‘n klipgooi weg van die Hatfieldkampus van die Universiteit van Pretoria is? Nee? So hoekom het jy ‘n board short aan? As Perdeby jou op kampus sien, voel ons jy moet  met ‘n klip gegooi word.  Ons is nie in Durban nie, kry vir jou ‘n behoorlike kortbroek of dra ‘n denim!

Website | view posts