Ienkatletiek

by PDBY Staff | Mar 3, 2010 | Uncategorized

MARELIZE MYERS

 

Die jaarlikse Ienkatletiekbyeenkoms is vanjaar op 9 Februarie gehou en Tuks se atletiekstadion het gedruis van die koshuisstemme wat geesdriftig hul deelnemende lede aangespoor het. 

Veral Jasmyn en Curlitzia het voor in die ry gestaan om mekaar met atletiekliedjies uit te daag. Dit was nou nie mango-mango of veselperskes nie, maar wel Maroela wat nie in hul getalle afgesteek het nie. Maar dit was Nerina en Kiaat, albei ewe in hul noppies, wat met die geesbeker weggestap het.

Klaradyn en Magrietjie, wat ook dié jaar saam gejool het, het heel gemaklik as ‘n eenheid langs mekaar op die pawiljoen gesit om die geleentheid te geniet.

Die algehele wenners van die byeenkoms was Vividus Mans en Vividus Dames. Die 2de en 3de plek in die mansafdeling het onderskeidelik aan Mopanie en Boekenhout gegaan. By die dameskoshuise is Klaradyn in die 2de plek en Lilium 3de.                    

Die uitlees van die wenners was egter nie die hoogtepunt van die aand nie. Van ‘n afstand het Mopanie maar heel onentoesiasties gelyk en verdeeld in twee groepe op die gras gesit. Na ‘n ruk het hulle heeltemal verdwyn net om later skaam-skaam oor die veld aangeloop te kom, met niks meer as hul onderbroeke aan nie. Die meisies het histeries gegil, die ouens het geboo terwyl sommige hand voor die mond sit en toekyk het. Die enigste meisies wat nie namens die eerstejaars van Mopanie gebloos het nie, was Vividus Dames, want hul gesigte was gerieflik blou    geverf.                                    

Die pret het egter nie daar gestop nie want een brawe Peppie het met die wegloop Kiaat se tier vir ‘n stoei aangedurf en sleg tweede gekom. Elke koshuis het sy beste gegee en bygedra daartoe dat 2010 se Ienkatletiek ‘n sukses was.

Website | view posts