Idees vol vrees: Afrikaanse humor

by PDBY Staff | Sep 21, 2011 | Entertainment

MARISSA GRAVETT

Suid-Afrikaners is nou maar eenmaal bekend vir hul unieke humorsin. Enkele ure na `n ramp soos die aardbewing en tsunami in Japan vroeër vanjaar, begin die grappies al die rondte doen. Sommige mense mag dit dalk as onsensitief afmaak, maar lag is `n goedkoper kuur vir enige traumatiese of stresvolle situasie as enige medisyne. Juis daarom skakel die Idees Vol Vrees (IVV) spotprentreeks van Kobus Galloway so goed by ons Suid-Afrikaanse humorsin in. In sy woorde: “Ek teken sodat ek mense kan maak lag.”

Menigte van julle het dalk al die spotprente op Facebook gewaar of `n vriend het dit aangestuur om jou dag op te kikker, en aangesien lag en algehele lawwigheid so lekker by die studente-genre inval, het Perdeby dit goedgedink om bietjie met Galloway te gesels.

Kobus, op IVV se Facebook-bladsy sê jy dat jy hoop die spotprente mense sal laat glimlag. Hoekom en waar het jou “loopbaan” as spotprenttekenaar begin?

Op die ouderdom van ses jaar het my ouers my vir kunsklasse gestuur en ek het dit vir 12 jaar geneem. Na skool het ek grafiese ontwerp gaan studeer en as vryskutkunstenaar gewerk. Maar ek teken spotprente en strokiesprente vandat ek kan onthou.

Hoe het die reeks spotprente ontstaan en waarom juis die naam “Idees Vol Vrees”?

Idees Vol Vrees, oftewel IVV, het sy naam gekry toe ek gesit en dink het wat ek wil doen, teken-gewys, met my lewe. Baie mense het visies, idees en drome, maar hulle kom nooit daarby uit nie, want hulle is te bang (vrees dat iets verkeerd gaan loop).Om `n spotprentreeks te begin was my “Idee(s) Vol Vrees”.

Waar kom jy aan die idees vir jou spotprente?

Ek sien inspirasie in letterlik enige iets. Alles in die lewe moet met `n knippie humor opgeneem word. Daar is so baie dubbelsinnigheid daarbuite. IVV-aanhangers stuur ook graag hulle voorstelle in na kobus@komedie.co.za of deur my webtuiste www.komedie.co.za.

Watter medium gebruik jy om die spotprente te teken; is dit handgeteken en ingeskandeer of gebruik jy `n rekenaarprogram soos PhotoShop of SketchBookPro?

Ek teken alles op die rekenaar deur middel van `n tablet, so alles verskyn direk op die skerm.

Die spotprente verskyn meestal weekliks en soms is daar selfs meer as een per week. Hoe lank neem dit jou omtrent om `n enkele spotprent te produseer (van die konsep tot die eindproduk)?

Alles is maar afhangende van die idee. Dit kan enige iets neem van vyf minute na `n uur of twee. Maar ek glo nie dat mens tyd kan plaas op mense se glimlagte nie, so ek hou nie eintlik die tyd dop nie.

Daar is gerugte van `n IVV-boek wat in Oktober beskikbaar sal wees. Wat kan jy ons verder hiervan vertel?

Ek wil nou nie die aap uit die mou laat nie, maar die IVV-boek is beskikbaar die eerste week van Oktober by enige goeie boekwinkel, maar meestal Exclusive Books en CNA sover my kennis strek. Daar is 154 IVV spotprente in, waarvan 50 eksklusief vir die boek geteken is. Dit sal ook by baie aanlynwinkels en webtuistes beskikbaar wees vir die mense wat bietjie vêr bly.

Op jou webtuiste, www.komedie.co.za, is daar ook soortgelyke spotprente te sien, soos IVV se Engelse boetie, Oneduhfool Cartoons en `n Afrikaanse “comicstrip” genaamd Die (mis)Avonture van Skorsie & Das. Is daar nog soortgelyke projekte in die pyplyn?

Oneduhfool is nog baie jonk, maar daar is ook groot planne vir hom. Die (mis)Avonture van Skorsie en Das word tans deur RGB & Alpha in die Kaap geanimeer en word nou `n animasiereeks, so wees op die uitkyk daarvoor. Hou Facebook en die webtuiste dop vir meer inligting binnekort.

Idees Vol Vrees is beslis soos die Facebook-bladsy dit stel, “kort, kragtig, snaaks en sinneloos” en dra op `n oorspronklike manier by tot die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse komediekultuur. Volg gerus Kobus en IVV op Twitter @IdeesVolVrees, gaan “like” die Facebook-bladsy of besoek www.komedie.co.za. As jy die spotprente prettig vind, doen jouself `n guns en gaan koop die IVV-boek wanneer dit Oktober op die rakke verskyn. Of seën `n vriend of familielid met die ideale verjaarsdag- of Kersfeesgeskenk.

Beeld: Kobus Galloway

 

Website | view posts