SIMONE VENTER
Verhoudings – ‘n gekompliseerde mengsel van verliefdheid, respek, pret en vertroue. Wanneer jy egter afstand bybring, kan dit alles in totale chaos laat ontaard. Kan afstand die einde van ‘n oënskynlike sprokiesromanse beteken, of nie? Maak 200, 300, 400 kilometer regtig ‘n verskil? Perdeby het gaan uitvind presies hoe ver té ver is.
“Afstand kan en sal nie ‘n band tussen twee mense kan breek wat gebaseer is op wedersydse respek, vertroue, toewyding en liefde nie.” Dit is wat Stephen Blake sê in sy boek Loving your long distance relationship. Hy laat dit egter veel makliker klink as wat dit regtig is. Selfs die sterkste verhouding word beïnvloed deur afstand en die uitdagings wat daarmee gepaard gaan. Dit kan onoorbruglike gapings tussen paartjies veroorsaak wat later kan lei tot die einde van die verhouding, of dalk ‘n band skep wat niemand kan breek nie. Statistieke wys daarop dat daar om en by 10 miljoen mense wêreldwyd hulle in so ‘n verhouding bevind.
‘n Groot deel van Tuks se studente is skynbaar ook in dieselfde bootjie. Monja Prinsloo, finale jaar LLB-student, is al vir die grootste deel van haar universiteitsloopbaan in ‘n langafstandverhouding. Sy sê dat alhoewel hulle mekaar min sien en soms groot gebeurtenisse in die ander se lewe mis, sy nooit die verhouding sal verruil nie omdat dit heeltemal te kosbaar is. Tog voel almal nie dieselfde daaroor nie. Vir baie is die afstand net ‘n té groot faktor, maak nie saak hoe hard hulle probeer om dit te oorkom nie. Faktore soos eensaamheid, verskillende ervaringsvelde as gevolg van verskillende omstandighede, groei en ontwikkeling in verskeie rigtings en ‘n gebrek aan voldoende kommunikasie is van die redes wat aangevoer word as van die nadele wat soms uit dié soort verhouding spruit. Chanell Hermann, BCom Bemarking-student is van mening dat vertroue die grootste struikelblok was aan die begin van haar langafstandverhouding omdat hulle mekaar nog nie so goed geken het nie. Met tyd het hulle egter saam deur die klein dingetjies gewerk wat gepla het.
Daar moet dus konstante kommunikasie tussen albei partye wees om op te maak vir die feit dat hulle mekaar min sien. Te danke aan heedendaagse tegnologie is daar nie ‘n tekort aan maniere daarvoor nie. Facebook, Skype, Myspace, MXit, sms, e-pos of selfs gewone telefoonoproepe beteken dat kontak maklik is en help om die afstand vir ‘n rukkie bietjie te verminder. Langafstandverhoudings kan egter nogal swaar raak op ‘n student se sak. So dink maar mooi of die persoon regtig die moeite werd is.
Langafstandverhoudings is ook ‘n heel algemene verskynsel in die media. Flieks soos Sleepless in Seattle of Dear John wys verskeie kante daarvan en alhoewel die situsies waarin die paartjies hulle bevind baie meer ekstreem is as die gewone (bv. oorlog) vind dit tog aanklank by baie wat hulself in soortgelyke omstandighede bevind. Bekende liedjies soos Plain White T’s se “Hey There Delilah” of Vanessa Carlton se “Thousand Miles” kan ook geluister word as die heimwee dalk te veel word aangesien dit ook handel oor ‘n geliefde wat ver is.
Langafstandverhoudings bly altyd ‘n omstrede saak maar dit hang af van jou persoonlike keuse. As jy genoeg omgee vir die persoon en alles in jou vermoë doen om dit te laat slaag, kan dit dalk die aanslae oorkom.