ELAINE SWANEPOEL
Sonop het hulself weereens met hierdie jaar se Lentedagvieringe oortref. Die jaarlikse Lentedagpartytjie, wat al vir die afgelope 12 jaar deur Sonop se Oostestreek gereël word, is hierdie jaar op 9 September by die Harlequin Rugbyklub gehou. In vergelyking met SinBin, waar Lentedag vorige jare gevier is, het Harlequin’s aansienlik meer spasie gehad. Sonop het deeglik hiervan gebruik gemaak.
Met jacuzzi’s, opblaasswembaddens en selfs ‘n slippery slide kon niemand oor die hitte kla nie. Orals het mense by tafels onder sambrele gesit en kuier, of sommer op die gras voor die verhoog uitgekamp. Talle biertente en stalletjies het verligting vir droë kele gebied en Sonop se eerstejaars moes bontstaan om aan al die versoeke te voldoen.
Die hoogtepunt van die dag was toe Tidal Waves op die verhoog geklim en die skare op hul voete gehad het. Kort op hul hakke was Klopjag en Van Coke Kartel. Teen die einde van die dag was almal hees geskree en moeg saamgesing.
Dinos Kaparos, president van die Ooste en die man wat so te sê verantwoordelik was vir die feesvieringe, sê dat hierdie jaar se venue baie beter was. “Daar was meer spasie en dit het ? atmosfeer van lente geskep,” sê hy. Volgens hom vat dit ? goeie twee maande se beplanning vir só ? dag om ? sukses te wees.
Die dag het egter nie net vir ? goeie kuiertjie gesorg nie, maar van die wins wat gemaak is word, aan ? welsynsorganisasie van Sonop se keuse geskenk. Die geld sal verder aangewend word om verbeterings aan die koshuis en meer spesifiek die Ooste aan te bring. Dit was ? dag om te onthou, behalwe natuurlik vir diegene wat dit al uit die staanspoor uit vergeet het. Maar een ding is seker: Sonop weet hoe om partytjie te hou.