ESTÉ CLAASSEN
Daar is ’n groot vierkantige oppervlak waar jongmense uit alle uithoeke van Pretoria bymekaarkom. Op die hoek van Hilda- en Burnettstraat is die Square ’n klipgooi van kampus af en ’n plek waar jou beker oorloop van goeie tye.
Gaan na Aandklas as jy meer touwys wil raak in die kuns van partytjie. Of jy nou ’n jock, emo kid, plein Katryn, metalhead of maar net ’n bietjie vreemd is, is hierdie die plek vir jou. Goeie rockmusiek, verspotte specials en flink mans en dames agter die kroegtoonbank sal waarborg dat jy nooit weer “klas” sal bunk nie.
Hulle Maandag- en Dinsdagrooster behels ’n in-diepte studie van plaaslike bier vir ’n skrale R8 elk. Boonop kry jy twee vir die prys van een tussen 19:00 en 20:00. Woensdae vind daar ’n toets in algemene kennis plaas. Dié Quiz Nightbegin om 20:00 en daar is elke keer ’n R300 bar tab op die spel. Donderdagaande gee ’n in-houseDJ ’n lesing in kontemporêre sowel as klassieke rock ’n roll. Hier leer ’n mens ook hoe om behoorlik op tafels te dans. Die vereistes om vir hierdie module in te skryf is eenvoudig: geen vooroordele of houdings nie; eerder ’n gesonde aptyt vir partytjie.
Cheeky Monkey is die plaaslike watergat vir alle partytjiediere. Die rustige vibe tydens die daaglikse twee-vir-die-prys-van-een cocktail special tussen 15:00 en 19:00 maak Cheeky Monkey die perfekte plek om ’n bietjie stoom af te blaas ná ’n lang dag op kampus. Cocktails soos die Pangalactic Gargleblaster, Monkey’s Orgasm en Long Island Ice Tea kan onder andere hier geniet word. Dra jou koshuisbaadjie op Donderdae en kry ’n dubbel brandewyn en Coke (of lawaaiwater, soos wat dit in die oerwoud bekend staan) vir slegs R13.
’n Paar treë verder is Chillies – ’n oulike plekkie waar jy kan langarm tot die byle huil. ’n Lekker mengsel van 80s, 90s en Afrikaanse musiek sal selfs diegene met twee linkervoete aan die dans kry. Hier is daar ook ’n daaglikse twee-vir-een special tussen 11:00 en 17:00. By Chillies is elke dag phuza-dag!
Alle paaie lei na Dropzone, ook bekend as Die Zone, DZ en Mordor. Dié plek se poorte is al meer as ’n dekade oop en dis die moeder van alle nagklubs. Die Zone het ’n massiewe dansvloer, spesiale smokers lounge, VIP lounge, pool-tafels en selfs ’n stripper-paal. Tesame met die weeklikse specials is hierdie plek behoorlik toegerus vir daardie legendariese laat aande.
OppiSquare is Perdeby se gunstelingplek om by te kuier.Daar sal altyd iemand wees wat jy ken – of iemand nuuts wees om te ontmoet. Die afslag op brandewyn, cane en Spice Gold van Maandae tot Vrydae waarborg ’n partytjie – selfs met ’n student se dun beursie. ’n DJ speel ’n verskeidenheid club hits sodat jy al jou dans moves wat jy tuis voor die spieël geoefen het, kan uithaal.
By die Square in Hatfield is daar nie ’n tekort aan vermaak nie. So kom maak jou tuis.