Handige brokkies inligting vir die nuwe student

by PDBY Staff | Jan 31, 2012 | News

MARISA BURGER

Die wyse André Gide het eenmaal gesê: “Man cannot discover new oceans unless he has the courage to lose sight of the shore.” Dis tyd om die hawe te verlaat en die Tuks-oseaan vol geleenthede, soms gepaardgaande met onsekerheid, te ontdek. Die sprong vanaf matriek- tot universiteitstandaarde is redelik groot, Perdeby het daarom dit goed gedink om `n paar basiese wenke te verskaf wat helderheid sal gee en die afskop van jou eerstejaarservaring sal vergemaklik.

`n Goeie verantwoordelikheidsin is een van die aspekte wat die sprong vanaf sekondêre na tersiêre vlak sal vergemaklik. Natuurlik gaan die eerste maand of so `n fees en so ietswat deurmekaar, maar soos die tyd aanstap vind mens `n balans tussen akademie en vele sosiaal. `n Belangrike faktor is dat jy streng by die gestelde vereistes moet hou aangesien uitsonderings, simpatie en kreatiewe verskonings iets van die verlede is en jou niks meer as `n druip in die sak sal bring nie. Hier is dit elkeen vir homself en so lank as wat die regte reëls en prosedures gevolg word, sal daar geen knope in die tou wees nie. Die universiteit verskaf soveel geleenthede op alle gebiede vir elke UP student, maar hou in gedagte dat akademie uiteindelik die belangrikste prioriteit is.

Voordat studente begin klas loop word `n rooster gewoonlik uitgewerk wat by die individu se graadkursus inpas, of in sommige gevalle sal jou fakulteit tydens die oriënterings week een aan jou verskaf. Lesings word in beide Afrikaans en Engels aangebied wat handig is wanneer klasse oorvleuel. Dit gee aan jou die geleentheid om jou rooster beter te bestuur. `n Keuse tussen dosente kan ook gemaak word in sommige gevalle. Binne die eerste paar dae van klasdraf word die dosente aan jou bekend gestel. Sodoende kan jy aflei wie die leerstof die beste aan jou sal oordra. Klasdraf is nie streng verpligtend nie, maar dit sal wys wees om lesings by te woon – veral verstaanvakke soos Statistiek en Finansiële rekeningkunde. Die feit dat wenke vir toetse gegee word en onvoorbereide klastoetse gedurende lesings geskryf kan word, noodsaak jou om lesings by te woon.

Na die afloop van lesings plaas sommige dosente klasnotas op ClickUP, sodat studente toegang het tot daardie inligting. Dit sluit projekte, take, toekomstige semestertoetse, afkondigings en toetspunte in. Die studiegids verskaf ook `n volledige uitleg en verduideliking van `n module. Daar is duidelike reëls aangaande plagiaat waarop aandag gevestig moet word. UP is baie streng wat plagiaat aanbetref en dit kan selfs tot skorsing deur die instansie lei.

Daar is egter goeie nuus vir diegene wat nie al die hulpmiddels soos persoonlike rekenaars of internet tot hul beskikking het nie. UP beskik oor fasiliteite soos die Open Labs en die Merensky-biblioteek waar elkeen toegang tot ClickUP en ander programme het.

Die meederheid eerstejaars het geen idee wat om te verwag wanneer semestertoetse en eksamens aanbreek nie. Dit is glad nie `n ingewikkelde proses nie, inteendeel dit is heel eenvoudig. Gewoonlik is daar een of twee moduletoetse per semester, waarna die eksamen volg om die semester mee af te sluit. Die toetspunte en alle ander projekpunte word gewoonlik op ClickUP geplaas en ook in die gebou van die toepaslike departement. Jy het dan die geleentheid om jou vorderdering te meet en te bereken watter punte jy nodig het om die module te slaag. Vir die meeste modules het jy `n totaal van 50% nodig om te slaag. `n Semesterpunt van 40% is nodig vir eksamentoelating. Die eerste ses maande van universiteit is baie deurmekaar en werk word teen `n stink-spoed afgehandel ter voorbereiding vir die eksamen. Daarna weet jy wat van jou verwag word en is die spanning heelwat minder.

`n Paar ander logistieke fasette wat vir jou `n klippie in die skoen kan wees is aspekte soos drukwerk, bind van projekte, kopieërwerk en die koop van handboeke. Die Merensky-biblioteek beskik oor druk- en kopieërfasiliteite, maar vele studente verkies egter om gebruik te maak van die dienste wat by ander instansies, byvoorbeeld 24/7 Student Internet Café, geleë in Prospect straat, aangebied word. Die tariewe is dikwels goedkoper en hulle gee aandag aan die individu se behoeftes soos om vir jou afrolwerk te doen as die tyd knyp. Saam met die rompslomp soos druk- en afrolwerk is die koop van handboeke ook een van daardie dinge wat `n mens verplig is om te doen.

Handboeke is duur en daarom is dit wys om tweedehandse handboeke te oorweeg. Wise Books is `n besigheid wat direk oorkant die hoofhek in Lynwoodweg geleë is. Daar kan jy tweedehandse en splinternuwe handboeke koop. Hulle bied ook soms pakette aan wat goedkoper uitwerk as om jou handboeke elkeen vanaf verskillende verskaffers aan te koop. Nog `n opsie is om die kennisgewingborde op die kampus dop te hou, vir UP studente wat hul handboeke privaat wil verkoop.

Hierdie is slegs `n paar wenke wat jy kan volg om winskopies los te slaan en tyd te spaar sodat jy akademies kan presteer. Onthou egter die tyd in die hoërskool wat veilig op die strand deurgebring is, is iets van die verlede. Nou is die tyd om na die veilige hawe te verlaat, die skip met al die moed in die wêreld te betree en die wye oseaan te ontdek sonder om terug te kyk. Gryp die geleenthede wat Tuks jou bied aan en begin 2012 met `n verwagting van `n suksesvolle akademiese loopbaan.

Foto: Ester van Eeden

Website | view posts