Glaskas: agt jaar later
CHRIS VAN DER MERWE EN JP NATHRASS
Perdeby het in die vakansie met Glaskas oor hulle nuwe album, Verganklik en Afhanklik, die musiekbedryf en hulle lewens as musikante gesels.
Julle was finaliste in die 2004 Rockspaaider kompetisie. Hoe sou julle die pad wat julle sedertdien met julle musiek gestap het, beskryf?
Al wat ons weet, is dat die pad van dag een af onvoorspelbaar en `n leerskool was en dat dit vandag nog geld. Mens leer feitlik elke dag nog iets nuuts oor jouself en ander en dit alles deur musiek. As mens terugkyk sien mens ongelooflik baie om voor dankbaar te wees sover en ons weet nie altyd hoe om dit te sê nie.
Julle was gelukkig om van `n jong ouderdom af baie goeie blootstelling te kry met julle musiek. Watter advies sal julle gee aan nuwe aspirant-musiekgroepe wat beoog om die plaaslike musiekmark te betree nou dat daar so baie Afrikaanse rock-groepe daarbuite is?
Die musiekbedryf verander beslis baie vinnig en drasties en die landskap is glad nie meer dieselfde as toe ons begin het nie. Een ding wat waar behoort te bly, is dat musiek sonder twyfel jou passie moet wees, want dit is wat uiteindelik vir jou die uithouvermoë gee om dit te laat werk. In vandag se tyd dink ek dis belangrik vir musikante om te besef dat musiek iets is wat gedeel moet word met mense, eerder as wat dit bloot `n produk is om te verkoop. Die feit dat daar baie bands daarbuite is, skep nie net kompetisie nie, maar ook meer geleenthede om by ander musikante te leer.
Julle nuwe album, Verganklik en Afhanklik, is onlangs vrygestel. Verduidelik bietjie die kreatiewe proses wat julle gevolg het met die skryf van die nuwe album? Ons het nie noodwendig `n spesifieke proses wat ons volg nie. Wat hierdie album bietjie onderskei van ons voriges, is dat ons nogal baie tyd as band aan die liedjies spandeer het voordat ons dit finaal opgeneem het. Gewoonlik sal ons die liedjies bou so terwyl ons opneem. So ons het met `n baie duideliker visie begin opneem as gewoonlik, maar selfs met `n duidelike prentjie in gedagte het die musiek nogal `n manier om sy eie pad te stap.
Julle nuwe enkelsnit, “Menslik”, is onlangs vrygestel, tesame met `n musiekvideo. Die musiekvideo wys hoe julle in `n speelparkie rondspeel. Wat was die inspirasie agter die video?
Die idee van die video is om `n vreemde omgewing voor te stel waar ons instrumente in die lug hang, toegedraai in lappe as onbekende, ontoeganklike vorms. Uiteindelik besluit ons om die lap af te skeur en, alhoewel dit nog ongemaklik is met stukke lap in die pad, op die instrumente te speel. Dit speel bietjie met die idee dat mens dikwels deur bekende goed reg voor jou uitgedaag kan voel en dan opnuut iets kan ontdek wat eintlik reg voor jou was.
Die nuwe enkelsnit klink ietwat anders as julle vorige werk. Kan aanhangers steeds dieselfde kenmerkende Glaskas-klank verwag of is daar `n paar verrassings met die nuwe album?
Ons hoop dat mense verras sal wees. Ons wil eerder nuwe dinge probeer as om eentonig te bly. Ons het selfs `n baie rou akoestiese liedjie op wat ons nog nooit voorheen op so manier aangepak het nie. Tog het ons hier en daar in die produksie-proses probeer terugverwys na ons ou klank omdat dit natuurlik deel vorm van wie ons is.
Deon, jy is een helfde van die akoestiese groep Dans Dans Lisa. Sal jy sê dat die musiek wat jy saam met Bouwer skryf `n invloed het op die musiek wat jy vir Glaskas skryf of hou jy die twee style so veel moontlik apart?
Ek glo nie die twee beïnvloed mekaar baie direk nie, want die rede hoekom ons Dans Dans Lisa oorspronklik begin het, was juis om iets bietjie meer ligsinnig en slegs akoesties te doen wat wegbreek van ons gewone projekte. Hoe dit mens wel beïnvloed is dat die afwisseling mens soms nuwe kreatiewe energie gee in beide rigtings.
Wie is julle gunsteling plaaslike musiekgroep(e) om saam mee op te tree en waarom?
Ons hou baie van Die Tuindwergies, want ons geniet hulle musiek en ken die ouens redelik goed. Ons probeer altyd om sover moontlik te onthou dat die meeste bands wat saam met ons in die bedryf is ook baie vir ons kan leer en geniet dit regtig om saam met soveel moontlik verskillende bands te speel, want juis een van die redes hoekom ons musikante is, is omdat ons voel dis iets wat mens help om oopkop te bly en met `n verskeidenheid mense in aanraking te kom.
Wat sou julle sê is julle gunsteling oomblikke in julle musiekloopbaan tot dusver?
Daar is natuurlik baie en mens onthou nie altyd alles wanneer iemand hierdie vraag vra nie. Maar: om elke nuwe album vir die eerste keer vas te hou, om te speel voor `n groot skare by `n fees of om in klein akoestiese venues mense in die oë te kyk. Om te hoor mense na wie ons opkyk glo in wat ons doen. Om pret te hê saam met ander bands. Om te lag vir foute op stage. Ons doen waarvoor ons lief is.
Het julle almal ander beroepe wat julle deur die dag beoefen? Dink julle dis belangrik om ander dinge (buiten musiek maak) te doen of maak dit nie eintlik saak nie?
Almal behalwe Deon het ander beroepe. Buddah produce voice-overs vir elektroniese opvoedkundige materiaal en Francois is `n kitaaronderwyser. Ons het in elkgeval ander goed waarin ons belangstel en wat ons ook van hou soos die meeste mense. Musiek bly maar ons al drie se eerste liefde.
Sien die “Menslik” musiekvideo hier onder of op jou foon: ilincc Perdeby7413f.
Foto’s: Eduan Kitching