MARIÉ VAN WYK

 

Vandag is die idioom “geen nuus is goeie nuus”, meer waar as ooit te vore. Dit wil voorkom of die enigste nuus wat deesdae die moeite werd is om publiek te maak, net sleg en negatief is. Perdeby, met `n bietjie hulp van Cracked.com, het besluit om vyf nuusbrokkies aan julle bekend te maak wat, in elke sin van die woord, goeie nuus is:

Die goeie nuus oor MIV/Vigs

Vroeërjare was dit `n onmiddellike doodsvonnis vir `n pasiënt as hy/sy met MIV gediagnoseer is. Nie net was jou lewesverwagting kort nie, maar jou lewenskwaliteit sou drasties afgeneem het en jou lewe sou waarskynlik die intrige van `n Griekse-tragedie gevolg het. Vandag is dit egter nie die geval nie. Meeste MIV-positiewe pasiënte kan vir dekades lewe, danksy antiretrovirale medisyne. En meer as dit, het die hoeveelheid MIV-infeksies met 25% gedaal sedert 2001 volgens theatlanticwire.com. In die poging om te voorkom dat `n MIV-positiewe moeder die virus aan haar kind oordra, het Suid-Afrika alleen 96,5% sukses behaal,volgens physorg.com.

Die gat in die osoonlaag krimp

Vandat ons in 1985 uitgevind het dat daar `n gat in die osoonlaag is wat gevaarlike UV-strale deurlaat en wat die aarde se klimaat stelselmatig verander, het die wêreld se regerings so groot geskrik dat hulle bereid was om politieke verskille eenkant toe te skyf en saam `n plan te beraam om iets aan die probleem te doen. Dit wil voorkom of hierdie internasionale samewerking tog gewerk het. `n Waardevolle les wat ons geleer het vir toekomstige probleme. Volgens livescience.com,  het Australiese-wetenskaplikes                                                                                                                     `n rede vir die osoonlaag se fluktuasie gevind; dit het te doen met `n natuurverskynsel wat “dynamical forcing” (dinamiese forsering) genoem word. As jy al die weertoestande wegvat, wat dit moeilik maak om die grootte van die gat in die osoonlaag te bepaal, is daar steeds `n gat, maar dit is 15% kleiner is as toe dit in die 90’s gemeet is. As die gat aanhou krimp teen hierdie spoed, sal dit hopelik gouer as 2060 (die vooruitskouingsdatum) weer die grootte wees wat dit was voor die 80’s.

Tienerswangerskapsyfers is die laagste ooit

Volgens die webblad, Reuters.com  is        tienerswangerskapsyfers die laagste wat dit in die afgelope 70 jaar was. Wat veroorsaak het dat hierdie syfer so gedaal het, is nog onbekend. Daar is verskeie teorieë: Sommige mense sê dat dit as gevolg van die resessie is, alhoewel Perdeby dit moeilik vind om te glo dat tieners wat onverwags swanger word, die finansiële gevolge van om `n kind in `n resessie groot te maak, oorweeg het. Daar is ook dié wat glo dat die verskeie realiteitsprogramme op televisie wat handel oor tieners wat hul kinders moet grootmaak, die afskrikmiddel kon gewees het. Dit kan ook net doodeenvoudig wees dat al die LO-seksopvoedingpraatjies tóg deurgedring het, en dat hulle uiteindelik die “No glove no love” beleid aanvaar het.

Mense word gelukkiger hoe ouer hulle word

Blykbaar was jou ouers verkeerd – studentwees is nie die beste tyd van jou lewe nie. Ten minste volgens `n berig wat op die weblad van nytimes.com verskyn het oor `n studie wat in Amerika gedoen is, waar daar 340 000 mense ondervra is tussen die ouderdomme van 18 en 85. Daar is verskeie vrae gevra oor als vanaf die mense se sekslewens tot gesondheid en finansies. Die interessantste deel het te voorskyn gekom toe die mense slegs ja-of-nee antwoorde moes gee, byvoorbeeld: “Het u een van die volgende emosies ervaar vir die grootste deel van gister: genot, vreugde, stres, bekommernis, woede, hartseer?” Die vrae was almal van so aard dat hulle die emosies op die dag of die vorige dag moes ervaar het en dat dit akkurate data (ouderdomsgewys) moet wees. Al die emosies het daarop gewys dat die deelnemers wat 85 is, gelukkiger is as die wat 18 is.

Ons almal leef langer en beter

Volgens die statistieke wat deur Hans Rosling ingesamel is, was die lewensverwagting in 1810 van die gemiddelde mens minder as 40 jaar in elke land op die planeet, en vir die mense wat in Afrika of Asië gewoon het, was dit minder as 25 jaar. In die afgelope 60 jaar het die vordering van tegnologie en medisyne, asook die groei van ekonomieë veroorsaak dat mense regoor die wêreld langer lewe met beter lewenskwaliteite. Selfs die minder bevoorregte mense wat op die armste plekke in die wêreld bly, leef langer as wat hulle 100 jaar terug geleef het, ten spyte van die MIV/Vigs epidemie, burgeroorloë en droogtes. Volgens Rosling is die toekoms blink en dis net opwaarts en voorwaarts van hier af.

So, volgende keer as jy `n koerant oopmaak en alles is net negatief, weet net dat geen nuus is goeie nuus.

Illustrasie: Ezelle van der Heever

Website | view posts