Gedans, gesweet, geskree

by PDBY Staff | Feb 3, 2011 | Uncategorized

SIMONÉ VENTER

 

Ienkmelodienk – die langste en moeilikste week wat jy ooit sal beleef , waar slaap ? luuksheid is en ontspanning ? onbereikbare droom.

Dit word egter nooit gewys nie. Die gehoor word vermaak met gekoördineerde bewegings wat met ? amper militêre presiesheid uitgevoer word, terwyl engelagtige stemme uit volle bors sing. Al die sweet, trane, frustrasie en emosie wat agter die skerms plaasgevind het agtergelaat en vergeet, terwyl honderde eerstejaars hulle harte uit sing en dans.

Om daar uit te kom is egter nie kinderspeletjies nie. Min slaap is aan die orde van die dag en oranje blikkies (Play) is in omtrent elke hand te sien – stapelvoedsel vir dié week. Oefen van vroeg tot laat, jy eet, drink en slaap Ienk. Dit word amper ? vloekwoord en word met glure (gewoonlik deur half-toe oë) en onuitspreeklike woorde begroet as dit in die gange geuiter word, veral na ? baie lang sessie in die vroeë oggendure.

Dit is egter ook `n week wat meeste eerstejaars niks voor sal verruil nie, behalwe miskien ? sagte bed en agt ure se slaap. Dit bind jou aan jou kos- of daghuis en maak jou deel van jou nuwe plek in die grootmenswêreld, jou tweede huis. Die soms onortodokse vriendskapsbande wat gedurende hierdie week gesmee word, hou dikwels jare. Magdel Thamm, `n eerstejaar inligtingsontwerp student, dink die hoogtepunt was die optrede, asook die talle nuwe mense wat sy met elke oefening ontmoet het.  Niks maak jou so trots op jou kos- of daghuis soos wanneer jy al gesweet en gebloei (hopelik figuurlik) het daarvoor nie. Dit skep ? patriotisme (of eerder koshuisisme) van ? ander graad, wat jou hart laat sjokolade klop vir daardie baksteengebou wat jou elke dag begroet soos `n ou vriend.

Selfs na minute se lyfskud en swaai op die maat van musiektreffers en die vertoning verby is, bly die gevoel jou steeds by en maak dit dubbel en dwars op vir die week van hel. Dit is iets wat met glimlagte op teruggekyk word en dis altyd ? goeie storie om te vertel as jy van jou universiteitsloopbaan praat.

Maak jou merk en kry jou plekkie in die son by jou koshuis. Maklik is Ienk nie, maar beslis die moeite werd. Wees deel van die eerstejaarsondervinding van ? leeftyd. Jou beste herinneringe aan Tuks begin definitief dié aand. Niks wat so ongelooflik begin (ongeag wie wen of verloor) kan ooit sleg eindig nie. Ienkmelodienk neem hierdie jaar op Woensdag 9 Februarie om 16:00 plaas. STUKU, wat Ienkmelodienk reel, het die volgende te sê: “Hierdie is die eerste geleentheid vir jou as eerstejaar om jou mede Jar, Spikkel, Yster, Pixy of Welpie te leer ken, geniet dit. Sterke aan alle Ienkmelodienkers, verras ons!”

 Moenie dit misloop nie, dit is regtig een van die beste ervarings vir elke eerstejaar.

Website | view posts