G.I. Joe: Net nog `n aksie fliek

by PDBY Staff | Apr 8, 2013 | Entertainment

ERENE OBERHOLZER

Die doel van die nuwe G.I. Joe: Retaliation fliek is aksie, aksie en nogmaals aksie. Met `n rock-klankbaan en merkwaardige rekenaaranimasie is hierdie fliek enige aksie-liefhebber se droom. Retaliation is die opvolg fliek van G.I. Joe: Rise of the Cobra.

Retaliation se rolverdeling word met nuwe akteurs vervang. Channing Tatum, die hoofkarakter in Rise of the Cobra verskyn kortliks in die opvolg. Die militêre groep, genaamd die G.I. Joes word nou onder die leiding van Dwayne “The Rock” Johnson ingespan. Nog ‘n verrassing is die verskyning van Bruce Willis, die oorspronklike generaal Joseph Colton. Willis neem nie `n ernstige rol in nie en verskyn vir kort periodes op die skerm. Retaliation se fokus is op die uitbeelding van aksie waar diep, sielvolle oomblikke in die minderheid voorkom. Eendimensionele karakters soos Johnson se twee onderlinge, Lady Jaye en Flint vertolk deur Adriannne Palicki en D.J. Cotrona, kom in Retaliation voor waar “Snake Eyes”, `n gunsteling aan die gehoor weer sy terugkeer maak as die onoorwonne held.

Retaliation begin as `n gewone oorlogsfliek. Die G.I. Joes word uitgestuur om kernwapens vanaf die Pakistani’s te gaan neutraliseer. Binne vyf minute begin die aksie en die gehoor is dadelik op die rand van hul stoele. Kort voor lank verander die storielyn na iets heeltemaal anders as net ‘n oorlogsfliek. Die G.I. Joes se aartsvyand, Cobra Commander, keer terug en wil die wêreld met toekomsgerigte tegnologie oorneem. Die Amerikaanse president, vertolk deur Jonathan Pryce, is deur Cobra ontvoer en gekloon soos in die eerste fliek al bekend gemaak is.

Die oorlewende G.I. Joes moet anoniem `n plan beraam om die wêreld se veiligheid en oorlewing te verseker. Die G.I. Joes veg hul pad oop na die Withuis met baie ammunisie en groot gewere en neem die gehoor op `n reis deur sneeubedekte berge met interessante gevegs-toertjies.

Die regisseur van twee van die Step Up-flieks, Jon M. Chu, verras die kyker met sy kamera werk. Hy bring `n choreografie element na die fliek, veral tydens `n martial-art stryd op `n bergkrans waar die vegters oor die steil oppervlak mekaar probeer dood maak. Die regisseur se gebruik van kamera-hoeke en keuse van klank dra tot die spanning in die fliek by.

As die gehoor dieselfde soort fliek as die eerste een verwag, sal Retaliation teleurstel. Hierdie fliek se storielyn is eenvoudig en selfs voorspelbaar en sal nie `n lewenslange indruk op die kyker maak nie. Die fliek, in `n neutedop, gaan oor skop, skiet en donner, maar is kykbaar en die regisseur verras die gehoor met sy kamera-kuns.

BEVINDING: 7/10

Image: www.aceshowbiz.com

Website | view posts