ANDRI NEL
Die psigedeliese klanke van trompet en klawerbord is die eerste ding wat jou ore vul wanneer jy Foto Na Dans se nuwe album, Die Vloed, op jou iPod onder `n boom lê en luister. Nes altyd het Le-Roi en die ouens alle verwagtinge oortref. Dis beslis die moeite werd om byna drie jaar te moes wag vir die oplewering van hierdie album.
Die klem is op die instrumente in hierdie album en die manne se talente as ware musikale kunstenaars word ten toon gestel. Daar is alles van kitaar- tot vreemde elektroniese komposisies.
Ten spyte van die unieke instrumentasie op hierdie album, is die lirieke ook `n sterk aantrekkingspunt – `n ware gedig op musiek. Soveel so dat menigte BA Tale-studente soms hulle dosente na Foto Na Dans wil laat luister sodat hulle sal besef dat vandag se Afrikaanse musiek wel as moderne letterkunde geag kan word.
Die CD is in `n ander trant en dit neem nie veel om tot die siening te kom dat die ouens van Foto Na Dans dalk net Suid-Afrika, en Afrikaans, se antwoord tot Muse kan wees nie. Nie net is hul musiekstyl en lirieke ewe passievol en oorspronklik nie, maar albei lewer ongelooflike live shows (as jy óóit die kans kry om Muse in lewende lywe te sien, verkoop jou hond in ruil vir `n kaartjie en gaan luister).
Daar is ou gunstelinge op hierdie album, soos “Afrikaans” saam met Flash Republic en dan natuurlik die liedjie waarvan die musiekvideo `n liefdes-bokser tema het, “Die Vloed”. `n Lekker verrassing is die dans-geïnspireerde bonusliedjie aan die einde van die CD. Dis net een van die redes waarom jy die CD op repeat gaan wil sit.
As jy van gedigte op `n wysie hou en `n nuwe soundtrack vir die begin van die jaar soek, probeer dié een. Dis iets anders en is `n lekker CD vir die kar en `n lang gewag in die verkeer. Voor jy jou gaan kry het jy al die CD `n paar honderd keer deurgeluister en elke keer sal jy weer iets nuuts ontdek.
Image: www.tuesdayguide.com