CHRIS VAN DER MERWE
Fokofpolisiekar (FPK), as `n band, beteken verskillende dinge vir verskillende mense. Sommige mense sien hulle as inspirasie en `n belofte vir verandering, ander sien hulle as `n lewende, bewegende sonde. Maak nie saak aan watse kant van die weegskaal jy jouself bevind nie, almal weet wie FPK is en bitter min mense kan ontken wat die bende vir Afrikaanse rockmusiek beteken het. In die agt jaar wat Fokofpolisiekar al bestaan, het hulle die land plat getoer, tonne mense se lewens beïnvloed en daar was selfs `n dokumentêr oor hulle gemaak, so dit was slegs `n kwessie van tyd voor `n biografie gepubliseer sou word.
Hotbox Studios was die toneel van die begin van FPK se langverwagte biografie bekendstellingstoer, asook die laaste musiekvertoning by Hotbox. Die toer sien FPK dwarsdeur die land om die biografie te bemark in Pretoria, Johannesburg, Bloemfontein, Stellenbosch en Kaapstad. FPK was ondersteun deur Johannesburgse African rock groep, BLK JKS, asook deur die Rage Against The Machine van Suid-Afrika, Not My Dog.
Die biografie was die geesteskind van Annie Klopper, redaktrise by Protea Boekhuis en biograaf van FPK se biografie, Biografie van `n bende: Die storie van Fokofpolisiekar. Annie Klopper ken die band al `n lang ruk en sy het haar meestersgraad tesis oor hulle lirieke gedoen by die Universiteit van Stellenbosch.
“Annie het na ons toe gekom met die idee vir `n biografie en ons het nie geweet of ons die tyd het vir so iets nie,” het Wynand Myburgh, baskitaarspeler en bestuurder van FPK, gesê.
Die biografie beloof om heeltemal anders te wees as die dokumentêr, Forgive Them For They Know Not What They Do, wat in 2009 vrygestel is.
“Met die documentary, het ons as `n band geen input gehad nie. Dit was meer uit Bryan Little se oogpunt uit.”
“Die biografie is meer soos een lang storie, van hoe die band ontmoet het en die pad wat hulle saam mekaar gestap het,” het Annie Klopper gesê oor die verskil tussen die biografie en die dokumentêr.
Die toekoms van FPK is onduidelik. “Dit was klaar `n groot mission om al die manne bymekaar te kry vir hierdie boek launch, almal is besig met ander bands en Johnny is besig met `n projek by die huis,” verduidelik Myburgh oor die die toekoms van die groep. “Na die boek launch gaan FPK bietjie stil wees, maar obviously is daar planne vir `n nuwe album. Dalk so volgende jaar se kant.”
Perdeby is seker meeste van julle is besonders opgewonde oor die idee van `n nuwe FPK album en dat julle jeuk om die biografie in die hande te kry. Perdeby weet, verstaan en het dalk ook `n lang string gelukdansies beoefen met die aanvangs van díé nuus. FPK se biografie is by alle groot boekwinkels, dwarsdeur die land, beskikbaar teen R180 per kopie. So, waar is die naaste boekwinkel?
Foto’s: JP Nathrass