MINNETTE NIEUWOUDT
“Don’t cry for me, Argentina.” Dié woorde uit die musiekblyspel Evita deur Sirs Andrew Lloyd Webber en Tim Rice het geen verduideliking nodig nie. Wie kan vergeet hoe Madonna, in die fliek van hierdie ikoniese blyspel, op die balkon van die Casa Rosada aan haar volk gesing het?
Suid-Afrikaanse gehore kry binnekort die geleentheid om die DVD vir eers weg te pak en Evita self op die verhoog te sien. In 1978 het die Londense produksie van Elaine Paige ‘n ster gemaak. Nou kry voormalige Mej. Suid-Afrika, Angela Kilian, die geleentheid wanneer sy die hoofrol van Eva Daurte de Perón in Paul Warwick Griffin en Charl-Johan Lingenvelder se Evita vertolk. Die geliefde musiekblyspel word van 14 Augustus tot 17 Oktober in die Pieter Toerienteater by Montecasino opgevoer. Griffin (regisseur) en Lingevelder (musikale regisseur) is die dinamiese span wat reeds ander van Webber en Rice se musiekblyspele na plaaslike gehore gebring het, onder meer Jesus Christ Superstar en Joseph and the Amazing Technicolour Dreamcoat.
Vir diegene wat nog nie weet nie, Evita vertel die verhaal van die voormalige Argentynse president Juan Perón se tweede vrou Eva – ‘n lewensverhaal wat soos die beste Hollywoodsprokies lees. Eva is ‘n buite-egtelike kind wat uit armoede en armsaligheid wegbreek om ‘n beroemde aktrise, presidentsvrou en, op die ou end, die “geestelike leier van die nasie” te word. Die sprokie neem ‘n tragiese wending wanneer sy op die ouderdom van 33 haar lewe aan kanker afstaan. Die hele nasie ween dan oor die ontydige dood van sy geliefde Evita (letterlik “klein Eva”).
In die blyspel is die karakter Ché die verteller. Ché, anders as wat algemeen aanvaar word, is nie ‘n naam nie maar eerder ‘n persoonlike voornaamwoord wat “jy” of “jou” beteken. Die karakter dien dus as spreekbuis vir die Argentynse alleman. Die rol van Ché is aan Kenneth Meyer toevertrou. Meyer het onlangs in The Boys in the Photograph verskyn (nog ‘n Webber-musiekblyspel wat vir Suid-Afrikaanse gehore verwerk is), maar Ché is sy eerste hoofrol in ‘n professionele blyspel.
James Borthwick speel die rol van Perón en Anton Luitingh dié van Magaldi, die tango- sanger wat Eva na Buenos Aires neem vir roem en rykdom.
Nou is jou kans om Evita op die planke te sien. Volgens tonight.co.za sê Kilian dat hierdie weergawe “heelwat kleiner, maar baie ryk in vertolking en kostuums” gaan wees.
Kaartjies is reeds by Computicket beskikbaar en kos tussen R125 en R295. Op Saterdae is daar twee vertonings om 16:00 en 20:00 terwyl weeksaande slegs een vertoning om 20:00 het .