MIGNON PEENS
Die inhoud en doel van drome is reg deur die geskiedenis, asook hedendaags, die onderwerp van wetenskaplike en filosofiese spekulasie. Daar is `n algemene nuuskierigheid rondom die redes waarom mens droom, wat jy droom, hoe om jou drome te beheer, hoe om jou drome te onthou en veel meer. Hier volg `n kort oorsig van die talle interessante feite en spekulasie wat neurologie en die wetenskaplike studie van drome te voorskyn bring.
Niemand se drome lyk eenders nie
Die meeste mense droom in kleur – slegs 12% van mense droom in swart en wit. Daar is ook blinde mense wat steeds in duidelike beeld droom lank nadat hulle blind geword het. Mense wat blind gebore is, kan egter slegs sintuie soos klank, reuke, emosies en fisiese gevoel in hul drome ervaar. Dit is ook `n feit dat jy slegs kan droom oor wat jou sintuie inneem en dus kom die wildvreemde mense wat `n rol in jou drome speel nie vanaf jou verbeelding nie. Jou brein het beelde gestoor van regte mense wat jy iewers in jou lewe teëgekom het. Die moordenaar in jou onlangse nagmerrie kon net so wel die petroljoggie wees wat jou pa se bakkie gevul het toe jy twaalf was.
Mense droom oor dieselfde temas
Drome waarin mens val, vlieg, gejaag word, laat kom, probleme moet oplos, nie vinnig genoeg kan hardloop nie, nie kan skree nie, `n eksamen dop of `n seksuele gebeurtenis, kom algemeen by verskeie mense voor. Ander algemene drome sluit in: vriende wat leef wat in jou droom doodgaan of dood is, iemand wat jou wil doodmaak, `n motor wat met jou wegry, motorongelukke en jou tande wat uitval. Meeste mense kan met hierdie drome identifiseer. Dit is nou indien jy jou drome kan onthou, aangesien jy die helfde van jou droom binne vyf minute en 90% daarvan na tien minute vergeet. Jy sal jou droom beter kan onthou indien jy tydens REM-slaap (die stadium van slaap waarin `n mens droom) wakker gemaak word. `n Ander interessante feit is dat mens nie droom terwyl jy snork nie.
Vir diegene wat ophou rook
Volgens `n studie in die Journal of Abnormal Psychology word mense wat wil ophou rook en gebruik maak van nikotienplakkers se drome baie duideliker en kry hulle gruwelike nagmerries as `n onttrekkingsimptoom van nikotien. Dit word vererger indien jy met die plakker gaan slaap.
Ons droom wat ons voel
Wanneer ons liggaam deur eksterne faktore, onder andere klanke, sensasies en temperature beïnvloed word, word dit in ons drome geïnkorporeer. Mens sal herhaaldelik van hierdie bogenoemde faktore droom, tot jy uiteindelik opstaan en besluit om iets daaraan te doen. Dit is byvoorbeeld waarom jy droom dat jy hardloop met `n propvol blaas tot jy uiteindelik by `n toilet uitkom met `n enorme verligting wat daarmee gepaard gaan. Ongelukkig besef mens min of meer twee minute later dat dit slegs `n droom was en dat jou blaas (hopelik) steeds propvol is. Of jy nou `n man of `n vrou is, as dit kom by “wet dreams” ondergaan beide geslagte seksueel verwante fisiese reaksies al is dit nie eers `n seksuele droom nie. Mans kry ereksies en vrouens ervaar verhoogde vaginale bloedvloei. Daar is tog `n verskil tussen die geslagte se tipe drome en mans neig om meer oor ander mans te droom en vrouens ewe veel oor beide geslagte.
Die mediese kant van drome en nagmerries
Indien jy sukkel met nagmerries moet mens eers bepaal of dit tydelik of chronies is. Akute (tydelike) nagmerries kan verband hou met aansteeklike siektes, `n aanpassingsprobleem en selfs kopbeserings. Daar is ook verskeie medikasie wat nagmerries veroorsaak, soos malariapille, slaappille, melanien, vitamien B5, sommige antidepressante, `n groot verskeidenheid kosse en baie ander dwelms. Chroniese nagmerries kan met skisofrenie, depressie, bipolêre depressie, angs, post-traumatiese stresversteuring en epilepsie geassosieer word. Dr. Paul Masters van die Universiteit van Metafisika het in `n studie bewys dat mense wat nie toegelaat is om te droom nie, na slegs drie dae begin sukkel het met konsentrasie, hallusinasies en geïrriteerdheid. Hulle het ook tekens van psigose begin toon. Toe hulle uiteindelik toegelaat was om te slaap het die duur van hul REM-slaap drasties toegeneem.
Die betekenis van `n droom
Die uitleg van drome dateer terug na 5000 vC. Die antieke Grieke het geglo dat drome profeties kon wees, of `n boodskap van die gode of die dooies was. Vandag is droomuitleg so maklik soos om DreamDictionary.com te besoek, waar 10 000 tipes drome uitgelê en verduidelik word. Lauri Quinn Loewenberg, wat spesialiseer in droominterpretasie, beweer dat haar reeks boeke jou in staat stel om diere, mense, simbole, seks, iemand wat doodgaan en veel meer gebeurtenisse in jou drome te verstaan en te ontleed. Sy instrukteer mens ook hoe om beheer te hê oor wat jy in jou drome doen, soos wat jy eet, wie jy in jou drome wil hê, waar jy wil wees in jou droom en veel meer.
Drome is soveel `n deel van ons as wat ons realiteit is. Party drome los `n vaste spoor in ons geheue en eienaardige nagmerries kan met tye ons gedagtes totaal oorneem. Die moderne era het gelukkig spesialiste soos dokters, teoretici, sielkundiges en droomlesers wat met hul spekulasies, feite, teorieë, interpretasies, boeke en webwerwe droomland en al sy glorie tot ons beskikking stel.
Foto: Charné Fourie