Drink slim en bly slim

by PDBY Staff | Feb 27, 2012 | News

MIGNON PEENS

Het jy al ooit gehoor dat studente hulself vet drink?

Navorsers beweer dat die menslike liggaam vloeistof-kalorieë nie op dieselfde manier as vastekos-kalorieë opneem nie. Boonop maak vloeistof-kalorieë jou ook nie eens versadig nie.

Glo dit of nie, maar daar is `n bose sy aan die meeste van jou geliefde blikkies gaskoeldrank, brousels, cocktails en drankies – suiker. Dit sluit alles van Cream Soda tot Coca-Cola, wat studente so graag met hul alkohol meng, in. Oxfords se “roomys in `n glas”, jou gunsteling Long Island Ice Tea, `n yskoue Black Label en Jägerbombs, onder andere, is uit die aard van die saak, meer soet as wat dit stout is.

Aan die een kant sê Dr. David Ludwig, `n geneesheer van Harvard, dat versoete alkoholiese en alkoholvrye gaskoeldrank direk verband hou met gewigstoename, maar aan die ander kant is daar talle studies wat nie vetsug met gaskoeldrank vereenselwig nie.

Die beroemde “eerstejaarsindroom” is sekerlik al `n afgesaagde konsep en almal is vinnig om McDonald’s burgers die sondebok te maak – veral omdat dit dikwels in die middel van die nag geniet word. Dit is egter die suiker in drank wat jou kalorie-inname deur die dak laat skiet en jou eetlus in die eerste plek te voorskyn bring. Perdeby het ondersoek ingestel.

`n Suikerbos in jou brousel

Bier: dit is een van die wêreld se gewildste drankies, maar volgens Men’s Health is dit `n sinoniem vir maagvet. Oor die algemeen het `n bottel bier min of meer 120 kalorieë. Een bottel bier is gelykstaande aan `n sjokoladekoekie, terwyl vier bottels gelykstaande is aan `n Big Mac hamburger.

Waarom maak bier so vet en hoe kan mens dit drink én die kilo’s vermy? Volgens die New England Journal of Medicine is matige inname van een tot twee bottels bier per dag heeltemal aanvaarbaar en as jy 20 tot 30 minute op die dansvloer spandeer, hoef jy nie oor `n bierpens te bekommer nie. Indien jy beplan om meer as dit te drink gaan jy maar moet sweet op die dansvloer – en nee, ongelukkig kan jy nie tydens die week niks drink en dan 10 tot 12 bottels oor die naweek inhaal nie.

Nagereg in `n glas

Wees maar versigtig vir romerige, melkerige drankies soos White Russians, Mai Tais, Pina Coladas en enige shooters wat Amarula en room as `n bestanddeel het. Jy kan net sowel `n Milky Bar of `n roomys eet en `n shooter skoon alkohol sluk. Dan is daar sjokoladestukkies gemeng met geklopte room bo-op `n koppie koffie, met `n winskopie van “koop-een-kry-een-gratis”, met `n skrikwekkende 680 kalorieë per koppie.

Wat van water?

Die meeste mense verkies koeldrank bo water, maar min mense besef die hoeveelheid ekstra kalorieë wat hulle inneem. Women’s Health reken as mens koeldrank uitsny sal dit wondere verrig indien jy `n paar kilo’s wil afskud – sonder enige addisionele oefening. `n Paar drankies wat mens maar in matigheid moet drink is Slush Puppies met `n skokkende 210 kalorieë elk, Coca-Cola met 160 kalorieë per blikkie (mik maar vir Coke Light of Coke Zero al voldoen dit nie heeltemal aan jou smaakvereistes nie). Vrugtesap (veral lemoensap) mag dalk gesond wees, maar is propvol vrugtesuiker en het `n verbasende 170 kalorieë per glas. Vrugtesuiker is wel gesonder is as gewone suiker, maar probeer maar steeds jou gunsteling vrugtesap te verdun deur dit met water of sodawater te meng. Powerade is mos goed vir atlete, so dit is sekerlik mos goed vir enige iemand? Dit is egter nie hoe die saak staan wat kalorieë en suiker betref nie. Mens moet ook versigtig wees vir likeurs en shooters wat Red Bull bevat. Hardehout-alkohol, soos rum, vodka, whiskey, brandewyn, tequila en gin het heel verbasend meer kalorieë as wyn, so meng sterk drank maar liefs met kalorievrye keuses. Mens drink darem gewoonlik minder sopies sterk drank as wyn.

Hou net die volgende gevaar in gedagte: wanneer jy te veel inhet, voel jy `n veer oor wat en hoeveel daarvan jy drink. So, of jy nou `n drumpelvretende kuiergat is wat wil boer in `n dronkaard se gekkeparadys of nie, jy kan die vet mis drink deur strategies en slim te beplan aan wat jy drink.

Photo: Marius Veldhuyzen van Zaten

Website | view posts