Diervelle en suits: Die perfekte kombinasie

by PDBY Staff | Mar 29, 2010 | Entertainment

TALITA CALITZ

Die nuwe album Chic Afrique deur die groep Gazelle is presies wat dit voorgee om te wees: ‘n eklektiese en opwindende samevloei van elektro, kwaito, funk en dansgenres met ‘n ritmiese polsslag. Hierdie album bevat tien liedjies en nie een stel teleur nie.

Jy is onmiddellik bewus van Afrika-geïnspireerde klanke met goeie kwaliteit produksie op ‘n internasionale standaard. Die liedjies laat jou dink aan ‘n groot makietie êrens op ‘n eiland waar almal welkom is.

Die verpakking van die album is self iets om te geniet. Dit bevat een groot poster van sanger Xander Ferreira asook foto’s van die musiekgroep saamgebind in ‘n stylvolle boekie.

Suid-Afrikaners behoort reeds bekend te wees die met liedjie “Die verlore seun”, wat handel oor ‘n plaasseun wat ‘n disco junkie geword het. Ferreira het self op ‘n plaas in Limpopo grootgeword en die musiekvideo is ook daar verfilm.

“Chic Afrique” is een liedjie wat vinnig besig is om mense reg oor die wêreld oor Gazelle te laat gons. Hierdie album is ‘n goeie voorbeeld van hoe tuisgemaakte musiek internasionale erkenning verdien.

Website | view posts