Die vermaaklikheidsrevolusie

by PDBY Staff | Sep 28, 2011 | Entertainment

CHRIS VAN DER MERWE

Die internet is verseker `n skitterende inligtingsbron. Kyk net hoe vinnig wend mense hul na Google as hulle meer inligting oor `n spesifieke onderwerp wil kry. Natuurlik het die vermaaklikheidswêreld homself vinnig met die internet vervleg. Vandeesweek kyk Perdeby na `n paar vermaaklikheids- en leefstylblogs wat op die internet te vinde is.

Gourmet Guys

Aanhangers van MasterChef Australia sal hierdie blog geniet. Daar is verskeie soortgelyke blogs op die internet, maar Gourmet Guys probeer hul benadering so uniek as moontlik hou. Hulle verskaf alles van restaurantresensies tot `n resep van die week. Die unieke ding in hul arsenaal is “Tweet And Cook”. Dit werk soos volg: op `n spesifieke aand gaan hulle stap vir stap deur `n resep op Twitter. Hulle sê ook ongeveer `n week voor die tyd vir die bloglesers watter bestanddele om te koop. Die doel van hierdie uitvindsel is om kosmaak pret te maak en om mense te oorreed om kos te maak wat hulle nie andersins sou nie.

Bangers And Nash

Daar is talle vermaaklikheidsblogs op die internet, dus is dit moeilik vir so `n blog om regtig uit te staan. Bangers And Nash kry dit egter perfek reg. Die blog handel meestal oor vermaaklikheid in en rondom Kaapstad, maar voeg egter ook `n paar snaakse en satiriese elemente daarby. Die blog is ook aktief op Twitter en Facebook met opdaterings elke paar minute rakende dinge wat gebeur in die vermaaklikheidswêreld. Hierdie blog gaan uit en uit net oor vermaaklikheid. As jy na `n ernstige siening oor iets opsoek is, is hierdie blog nie die plek waar jy dit gaan kry nie.

Mojo Dojo

`n Leefstylblog met `n kinkel. Hierdie blog se medestigter is niemand anders nie as voormalige FHM Features redakteur, Gordon Laws. Meeste van julle sal hom ken as “Captain Beer” of as die mal ou wat die aankondigings by Oppikoppi se FHM-stage doen. Hierdie blog is basies soos `n aanlyntydskrif waarvoor jy nie hoef te betaal nie. Daar is enige iets van fiksheidartikels tot motorresensies beskikbaar op hierdie blog. Dit is hoofsaaklik vir mans bedoel, maar daar is `n paar ligte satiriese artikels wat dames ook sal geniet. As Men’s Health en FHM vir jou bietjie te duur raak om elke maand te koop, gaan besoek gerus hierdie blog.

Wat Kyk Jy?

Hierdie blog het geen bekendstelling nodig nie. Almal het sekerlik al hiervan gehoor, of dit nou is oor die grappe wat hulle publiseer, die houding van die skrywers of net die algemene lawwigheid van die hele spul. Niks in hierdie blog moet te ernstig opgeneem word nie, aangesien `n bietjie belaglikheid die hele idee van die blog is. Daar is baie interessante dinge op die Wat Kyk Jy? blog te vinde. Alles van vuil grappies tot hulle eie weergawe van UrbanDictionary.com. Dit is nie moeilik om jouself vir `n uur of wat te verloor terwyl jy dit verken nie. As jy op soek is na jou zef-wees fix, dan is hierdie blog net die ding vir jou.

Texx and the City

Hierdie blog is baie dieselfde as Bangers And Nash in die sin dat daar ook oor vermaaklikheid in Kaapstad geskryf word, maar Texx and the City handel egter oor internasionale vermaaklikheid ook. Dit is basies `n persoonlike blog waarin die blogger haar opinie lug oor huidige vermaaklikheidsnuus. Daar is ook lukrake goed soos “Theme Tune Thursday”, waar die blogger musiek opsit wat haar bui die spesifieke Donderdag pas. Dit is `n baie goeie manier om bietjie tyd te verwyl as jy in die klas sit en nie eintlik in die lesing belangstel nie.

Image: JP Nathrass

 

Website | view posts