Die toekenning gaan aan…

by PDBY Staff | Sep 14, 2011 | Entertainment

CHRIS VAN DER MERWE

Dit is die Maandagoggend vroeg waarvoor jy, as ywerige aanhanger van TV-programme en self-geproklameerde baas van die TV-afstandbeheer, gewag het. Perdeby praat natuurlik van die 63ste Primetime Emmy-toekennings.

Perdeby stel vandeesweek ons voorspellings aan julle voor. Mnet saai dit Maandagoggend 19 September lewendig om 02:00 uit, met `n herhaling dieselfde aand om 21:30.

Verrassings en teleurstellings

`n Massiewe teleurstelling is dat verlede jaar se “golden girl”, Lea Michele van die musikale-komediereeks Glee, nie eers vanjaar vir `n toekenning genomineer is nie.

Een van die mees kontroversiële nominasies is waarskynlik Game of Thrones, vir die beste dramareeks. Daar is spekulasie dat dié reeks slegs genomineer is omdat geen nuwe episodes van Breaking Bad gewys het gedurende die kiestydperk nie. Nog `n teleurstelling is die feit dat Katey Sagal gefaal het om `n Emmy-nominasie te verdien ten spyte van die Golden Globe wat sy gewen het vir haar rol in Sons Of Anarchy.

Beste akteur in `n komediereeks

Die genomineerdes vir vanjaar se beste akteur in `n komediereeks is Alec Baldwin (30 Rock), Louis C.K. (Louie), Steve Carell (The Office), Johnny Galecki (The Big Bang Theory), Matt LeBlanc (Episodes) en natuurlik Jim Parsons (The Big Bang Theory). Die groot verrassing hierdie jaar is dat twee akteurs van The Big Bang Theory genomineer is. Volgens Perdeby is daar geen twyfel dat Jim Parsons hierdie jaar weer die toekenning gaan verower nie. Alec Baldwin, `n 2009 Emmy-wenner, is ook weer genomineer, maar dit is te betwyfel of hy die toekenning sal wen aangesien talle mense 30 Rock sien as `n skip wat al lankal geseil het.

Beste aktrise in `n komediereeks

Die genomineerdes vir vanjaar se beste aktrise in `n komediereeks is 2010 Emmy-wenner Edie Falco (Nurse Jackie), Tina Fey (30 Rock), Melissa McCarthy (Mike & Molly), Laura Linney (The Big C), Martha Plimpton (Raising Hope) en Amy Poehler (Parks & Recreation). Die eerste ding waarvan mens kennis neem as mens kyk na dié genomineerdes, is dat twee aktrises van die TV-program Saturday Night Live genomineer is. Fey en Poehler het inderdaad `n ver pad van die dae van lukrake spotstukke gekom. Een van die hoogtepunte van die Emmy-nominasies was die reaksie van McCarthy toe sy uitgevind het dat sy genomineer is vir beste aktrise (Ditkan op YouTube gesien word). Daar word vermoed dat Falco hierdie jaar moeilik weer die toekenning sal ontvang. Die gunsteling in ons boeke is McCarthy.

Beste komediereeks

Die genomineerdes vir die beste komediereeks is The Big Bang Theory, Glee, Parks & Recreation, Modern Family, The Office en 30 Rock. `n Nuwe toetrede hierdie jaar is NBC se Parks & Recreation – alhoewel hierdie reeks nie gesien word as die gunsteling om vanjaar se Emmy-toekenning te wen nie. Verlede jaar se gunsteling om die toekenning te wen was Glee,maar Modern Family het dit uit Glee se hande weggeraap. Daar word geglo dat presies dieselfde hierdie jaar gaan gebeur. Perdeby se gunsteling is verseker Modern Family.

Beste akteur in `n dramareeks

Vir die laaste twee jaar het Bryan Cranston weggestap met die Emmy vir beste akteur in `n dramareeks vir sy rol in Breaking Bad. Hierdie jaar is hy egter nie genomineer nie. Hierdie ekstra nominasiegleuf is vinnig gevul deur Timothy Olyphant (Justified). Ander genomineerdes is Steve Buscemi (Boardwalk Empire), Kyle Chandler (Friday Night Lights), Michael C. Hall (Dexter), John Hamm (Mad Men) en Hugh Laurie (House). Perdeby het gesukkel om `n voorspelling in hierdie kategorie te maak. Die keuse was basies tussen Buscemi enHamm. Beide is uitstekende akteurs, maarHamm is ons uiteindelike keuse.

Beste aktrise in `n dramareeks

Elke kategorie in vanjaar se Emmy-toekennings is erg kompeterend, maar hierdie kategorie is maklik een van die uitdagendstes om te wen. Die genomineerdes is Kathy Bates (Harry’s Law), Connie Britton (Friday Night Lights), Mireille Enos (The Killing), Mariska Hargitay (Law & Order: Special Victims Unit), Julianna Margulies (The Good Wife) en Elizabeth Moss (Mad Men). Daar word verwag dat Mad Men met al 19 toekennings waarvoor dit genomineer is (die meeste van enige reeks hierdie jaar), gaan wegstap. Die 2010 toekenning het aan Kyra Sedgwich (The Closer) gegaan en in 2009 aan Glenn Close (Damages). Nie een van hierdie aktrises is vanjaar genomineer nie. Perdeby voorspel dat die toekenning aan Moss sal gaan.

Beste dramareeks

Hierdie is waaroor dit alles gaan, is dit nie? Die komediereekse is pret om na te kyk en dit is interessant om te sien wie watter toekennings wen, maar die dramareekse is waar die meeste ernstige toneelspel plaasvind. Verlede jaar het Mad Men die Emmy vir beste dramareeks verower en verdienstelik ook. In 2009 het Dexter weggestap met die toekenning. Hierdie jaar is beide hierdie reekse weer genomineer. Ander genomineerdes sluit in Boardwalk Empire, Friday Night Lights, Game of Thrones en The Good Wife. Perdeby dink vanjaar se Emmy vir beste dramareeks gaan aan Game of Thrones gaan, punt en klaar. Indien jy al ooit Game of Thrones gesien het, sal jy saamstem dat dit nie `n verrassing sal wees as dit hierdie toekenning inpalm nie.

Illustrasie: Ezelle van der Heever

 

Website | view posts