CHARLOTTE KEURIS
Die nuwe rugbyseisoen het onlangs begin en Perdeby het besluit om Tuks se spelers ‘n voorsprong te gee met behulp van Boksmart. Boksmart het ‘n nasionale program begin om rugbyspelers bewus te maak van voorsorgsmaatreëls wat die kanse van beserings kan verminder.
Eet en drink reg: Meeste rugbyspelers weet dat dit belangrik is om jou liggaam sterk en gesond te hou, dus is ‘n goeie dieët noodsaaklik. Goeie voeding is net so belangrik soos gereelde oefening en moet nie onderskat word nie. Vir meer inligting oor gesonde eetgewoontes besoek gerus www.boksmart.com.
Vooraf opwarming en agterna afkoeling: Dit is noodsaaklik om ten minste 10-25 minute voor alle wedstryde aan opwarmingsoefening te spandeer.Onder andere moet die sessie verskeie strekoefening insluit. Na alle wedstryde moet spelers 5-15 minute spandeer om weer af te koel sodat hul liggame kan herstel.
Hou jou liggaam in ‘n goeie toestand: Om beserings te voorkom is weerstandsopleiding belangrik. Hou ook jou liggaam in ‘n goeie kondisie. Deur jou spiere te versterk sal jy ook jou gewrigte sterker maak. Hierdie is veral van belang om ernstige nek- en ruggraatbeserings te voorkom.
Leer veilige tegnieke: Om die kanse op beserings te verminder, moet spelers ook veilige tegnieke aanleer om skrums en laagvatte te doen. Die korrekte uitvoering van die tegnieke sal nie alleenlik die individu se prestasie verbeter nie, maar sal ook die span se spel in die algemeen verbeter. ‘n Speler wat die korrekte liggaamsposisie aanleer en behou sal tydens wedstryde ‘n voordeel bo ander spelers hê.
Respekteer die spel: Alle spelers moet hulself, sowel as die reëls en die opposisie gedurende die wedstryd respekteer. Spelers wat die spel respekteer sal met waardigheid verloor en met eer wen. Spelers moet altyd eerlik speel en ook onthou dat die skeidsregter in beheer is.
Weet hoe om beserings te hanteer: Dit is belangrik om so vinnig soos moontlik enige nek-, kop- of ruggraatbeserings en konkussies te kan identifiseer. Beseerde spelers moet versigtig behandel word, verkieslik deur ‘n professionele mediese span.
Beskerm jouself: In ‘n kontaksport soos rugby is dit belangrik vir spelers om hulself gedurende oefeninge en wedstryde te beskerm.’n Groot deel daarvan om beserings te voorkom, is om die regte toerusting en klere te gebruik. Dit is wys vir spelers om gebruik te maak van veiligheidstoerusting soos skouerskutte, mondbekermers en hoofbekermers.
Kyk na jouself en jou span: Spelers moet aangemoedig word om alle beserings aan die afrigter te rapporteer. Klein beserings moet nie geïgnoreer word nie, aangesien dit onbehandeld met tyd kan vererger.
Voorsorg is beter as nasorg: Boksmart adviseer alle spelers om voor ’n nuwe seisoen vir ‘n fiksheidsontleding te gaan. Dit sal ‘n speler se probleemareas kan identifiseer en sal ook met die behandeling van enige beserings gedurende die seisoen kan help.
Dring daarop aan dat jou afrigter deur BokSmart gesertifiseer is. Memoriseer die BokSmart Spineline-noodnommer: 0800 678 678