IRANDA ERASMUS
Terwyl meeste van ons nou maar eers weer gewoond raak aan die normale vloei van dinge in die nuwe kwartaal, loop spanning en opgewondenheid al hoe hoër vir diegene wat verbete agter geslote koshuisdeure oefen.
Vir diegene van julle wat nuut is hier op kampus, Serrie is ‘n jaarlikse koshuiskompetisie, soortgelyk aan Ienkmelodienk, behalwe die keer kry die hele huis die geleentheid om deel te neem. Elke koshuis sit ‘n 8-10 minuut show aanmekaar, bestaande uit sang, dans en drama wat als by ‘n selfgekose tema pas.
Volgens Serrie-reëls was die vroegste wat koshuise kon begin oefen 10 Februarie, maar slegs die mees oorywerigstes het tóé al begin oefen. Meeste van die koshuise het eers in Maart skouer aan die wiel gesit. Dit bly steeds ‘n geheim of hierdie vroeë begin enigsins lonend gaan wees.
Oefeninge vind gewoonlik in die aande plaas vir enigiets van 2 tot 4 uur, en ‘n paar 5-uur-die-oggend-sessies, sou die huis dalk agter skedule raak. Tel ten minste twee naweke van moordende oefeninge by en jy kry ongeveer 60 ure van Serrie-oefening om (hopelik) vir jou ‘n aanvaarbare eindproduk te gee.
Dit lyk asof die kompetisie weereens hierdie jaar vanaf Curlitzia, Klaradyn, Magrietjie, Asterhof en Erika se geweste gaan kom. Tog moet Nerina en Jasmyn beslis nie onderskat word nie. Maryke van der Zee, Klaradyn se Interne HK, sê dat Klaradyn definitief sal opleef na die standaard wat hulle laas jaar gestel het. Sy sê egter ook dat die twee jare glad nie met mekaar vergelyk kan of moet word nie.
By die ouens moet daar veral vir Taaibos, Olienhout, Boekenhout en Sonop uitgekyk word. Hierdie koshuise moet egter nie op hulle louere rus nie. Ter oordeel aan Maroela se skielike kulturele oplewing, kan groot dinge ook hierdie jaar van hulle verwag word.
Die uitdunrondte vir die dames vind op 28 April plaas en die mans s’n op die 29ste. Die meisies en ouens sal onderskeidelik van koshuis na koshuis gaan, waar ‘n paneel hulle op grond van kreatiwiteit, entoesiasme en danspassies sal beoordeel. Vyf dames- en vyf manskoshuise sal dan deurdring na die finaal op 1 Mei in die Amfiteater. Heuwels Fantasties sal die aand open, voordat die regte vermaak begin. Hierdie jaar se finaal verskil van vorige jare s’n, in dié sin dat die puntetelling van die uitdunrondte glad nie met die finaal nie gaan tel nie.
Dit lyk asof hierdie jaar se serrieseisoen een van opwinding, spanning en dalk selfs ‘n paar verrassings gaan wees.