MAGDALEEN SNYMAN

 

Met daai tweedehandse Volkswagen Golf in jou gedagtes en `n groot rooi ‘L’ op die agterruit, gaan jy jou eerste bestuursles binne. As jy `n rugged-renjaer-tipe ou verwag het om jou te leer bestuur, gaan jy teleurgesteld wees. Die instrukteur sal tien-teen-een `n woordeskat gebruik wat nie by die Sondagskool toegelaat word nie en een sigaret per kilometer rook. Berei jouself ook voor om sielkundige te speel, want vir die volgende maand of twee gaan jy skinderstories oor kliënte, vriende en skoonma’s moet verduur terwyl jy gelyktydig op die pad moet konsentreer.

As jy, soos meeste leerlingbestuurders, nie `n kar het om mee te oefen nie is dit geen probleem nie. Doen miskien net `n paar lunges elke aand om jou linkerbeen voor te berei op die koppelaar wat al so moeg is vir leerlingbestuurders dat hy terug druk wanneer jy hom intrap. Maak seker jy’t `n hoed en `n sonbril byderhand, want die dag wat jy in Lynnwoodweg afry in `n kar met 700 Learner-plakkers op, sal die dag wees wat jy elke persoon wat jy ken sien.

Moet egter nie bekommerd wees oor wanneer die instrukteur jou sommer dadelik op `n pad vol karre laat ry nie. Jy gaan leer om ongeveer 40km per uur te ry vir jou lisensietoets, so die enigste regte gevaar is dat iemand jou vir `n stilstaande voorwerp mag misgis. Maak nie saak hoeveel L’e daar op die kar is nie, die vrou in die BMW agter jou gaan vir jou toet, lelike handseine gooi en alles in haar vermoë doen om jou te laat sleg voel wanneer jou kar vrek. Vat maar `n asmapompie saam, want jy gaan waarskynlik een of ander tyd agter die grootste vragmotor met die meeste uitlaatgas in Pretoria beland, en nie vinnig genoeg al jou kyke kan doen en versnel om hom verby te steek nie. Maak jou ook maar reg vir `n nekspasma, want om jou lisensie te slaag moet jy oral behalwe voor jou op die pad kyk.

Helfte van die lisensietoets bestaan uit parkering. Dit word agteruit gedoen, presies die teenoorgestelde as wat jy doen wanneer jy uiteindelik jou lisensie het, en elke bestuurskool het `n geheime kode wat jy daarvoor moet onthou. Die feit dat daar eendag wanneer jy buite Pick `n Pay gaan parkeer, nie twee meter lange wit paaltjies gaan wees nie, is nie relevant nie.

Perdeby het by `n paar studente gaan uitvind wat vir hulle meer relevant sal wees om te leer in `n lisensietoets.Volgens tweedejaar joernalistiekstudent, Stephan Scholz, sal die lisensietoets meer relevant wees as dit jou leer hoe om `n “pastei of jam fold-over in jou mond hou. Dít terwyl jy albei hande van die stuurwiel af het omdat jy sukkel om jou klein melkie oop te maak, want daar is so `n weird stuk plastiek wat dit toe hou.” Volgens eerstejaar omgewingswetenskappe student, Cornel Claassen, is dit belangrik vir die toetsbeampte om vir jou roereier en roosterbrood te gee en jou dan in die middestad te laat ry: “Jy mag nie mors of die kar stamp nie,” verder voel hy ook: “As jou rims nie groot genoeg is nie mag jy nie jou lisensie kry nie.” Derdejaar spraakterapiestudent, Doret Niemandt beweer dat dit `n kuns is om met vals naels te bestuur en vir die ware toets beveel sy aan dat mens in spykerhakke en `n kort rompie op die snelweg moet kan ry.

`n Nare drieletterwoord wat jy nie uit die toetsbeampte se mond wil hoor nie is: rol. Dit gebeur binne `n sekonde en is amper onmoontlik om te voorkom. As jy jou lisensie in die Vrystaat gekry het, het jy moontlik nog nooit die term gehoor nie. Dit is wanneer jy teen `n opdraende staan en jou kar (al is dit net `n halwe millimeter) agtertoe beweeg voor jy die petrol trap om vorentoe te gaan. In die geval sal die gemene toetsbeampte jou dadelik druip.

Wanneer jy `n leerlingbestuurder is, is toetsbeamptes meer beroemd as filmsterre. Al jou vriende gaan jou vertel van die een wat oulik was by daai toetsstasie en daai een wat hom onregverdig laat druip het by `n ander. Natuurlik is daar altyd `n vriend van `n vriend se niggie, wat haar lisensie met `n bottel Whiskey gekoop het by `n toetsstasie waarvan jy nog nooit gehoor het nie. Al dink jy dis `n skande, begin jy na die eerste keer wat jy gedruip het wonder of dit nie `n verskil sal maak as daar volgende keer toevallig `n bottel met `n strik om op die agtersitplek lê nie…

`n Faktor wat baie mense glo `n groot invloed het op of jy druip of deurkom, is wáár jy die toets gaan doen. Hoe kleiner die dorp, hoe groter is jou kans om deur te kom. Name soos Volksrust, Pofadder en enige plek waar jy die hoeveelheid verkeersligte op een hand kan tel, is wenners. Nog `n wenk is om `n dorp te kry wat so klein is dat die enigste plek waar jy kan oefen op die toetsbaan self is, byvoorbeeld Potchefstroom.

Met `n mooi geboude kuit, gewapen met `n hoed en `n sonbril, in die middel van nêrens, wannneer jy daardie klein plastiekkaartjie kry, maak dit alles die moeite werd, selfs die rooi L op die agterruit.

Foto: Esther van Eeden

Website | view posts