Wil jy weet wat hierdie jaar in die musiek-, teater- en boekwêrelde gebeur, maar jy is nie heldersiende nie? Gelukkig is Perdeby hier om te help. Ons het in ons kristalbal gekyk om vir jou ons keur van vanjaar se vrystellings te bring.
MEAGAN DILL
Musiek
Ware legendes sterf nooit nie: die gerespekteerde rapper Tupac Shakur, stel vanjaar ‘n album uit die graf uit vry. Die album, Shakurspeare, behoort middel 2010 vrygestel te word. Dit sal bestaan uit snitte wat in 1988 deur Shakur in a cappela-formaat opgeneem is. Die snitte is vir die album getoonset en digitaal heropgeneem. Gaskunstenaars sluit in Dr Dre, Eminem en The Notorius B.I.G.
Radiohead het ook bekend gemaak dat hulle van plan is om vanjaar ‘n album vry te stel, alhoewel geen vrystellingsdatum nog bekend is nie. Die groep is egter gesteld daarop om ‘n onkonvensionele format vir die album te gebruik. Na bewering sal dit óf gratis van hulle webtuiste afgelaai kan word (soos met 2007 se In Rainbows) óf ‘n kortspeler wees. Hoe dit ookal sy, dit lyk of ‘n vollengte album buite die kwessie is. Volgens NME.com het die voorsanger, Thom Yorke, die volgende oor langspelers te sê: “Dit het net ‘n groot las begin word. Dit het met In Rainbows gewerk omdat ons ‘n vaste idee gehad het waarheen ons op pad was. Maar ons het almal gesê dat ons dit definitief nie weer kan doen nie. Dit sal ons dood beteken.”
Teater
Dit lyk na ‘n groot jaar vir teater in Johannesburg. Dit is ‘n entjie se ry, maar sal beslis die moeite werd wees. Die groot trekpleister vir 2010 is, heel gepas, ‘n musiekblyspel met ‘n sokker tema: The Boys in the Photograph. Hierdie produksie is ‘n aangepaste weergawe van die treffervertoning The Beautiful Game deur Andrew Lloyd Weber en Ben Elton. Dit vertel die storie van lede van ‘n amateursokkerspan en die gehoor beleef saam met hulle die hoogte- en laagtepunte van hulle reis tot volwassenheid. Die vertoning begin 18 Mei en kaartjies is vanaf R293 beskikbaar.
Flieks
Een van die rolprente waarna fliekgangers ongetwyfeld die meeste in 2010 uitsien, is Tim Burton se voorstelling van die klassieke verhaal van Alice in Wonderland. Volgens Blast Magazine wou Burton iets nuuts skep uit die temas, karakters en gebeure alreeds in die boeke teenwoordig. Burton sê: “Baie van die rolprent is op die Jabberwocky-gedig in een van die stories gebaseer. En dis nie ‘n groot deel van die storie nie, maar ons gebruik elemente van al die boeke omdat dit in hulle aard is en nie regtig ‘n spesifieke liniêre struktuur volg nie.”
Alice in Wonderland word in Maart vrygestel en is gewaarborg om ‘n lokettreffer te word met sterre soos Johnny Depp as die Mad Hatter, Helena Bonham Carter as die Red Queen en Anne Hathaway as die White Queen. Die titelrol word deur Mia Wasikowsla gespeel.