Die padkaart vir eerstejaars

by PDBY Staff | Feb 6, 2011 | Entertainment

MINNETTE NIEUWOUDT

Jou eerste jaar op universiteit is propvol nuwe ervarings. Skielik gaan jy op weeksaande uit en naweke gaan jy huistoe. Hierdie padkaart sal jou help om by al die belangrike plekke uit te kom. Moet net nie sê jy het nie geweet waar die plek is nie…  

Vir spys en drank:

Java (285 Lynnwoodstraat, Lynnwood)

Die goedkoopste plek om ontbyt te eet. Java se hamburgers is ook legendaries, om nie eens te praat van hul sjokoladebruintjies nie. TriBeCa Coffee Company (Brooklyn Design Square, hoek van Middel en Vealstrate)

Dit is die plek om by gesien te word. Skuur skouers met die beautiful people terwyl jy aan `n dekadente Piña Colada Smoothie teug. Vida e Caffé (Brooklyn Design Square, hoek van Middel en Vealstrate)

Die ideale koffiewinkel. Volgens hulle is koffie-drink `n leefstyl. As jy saamstem is dìt die plek vir jou. Cheeky Monkey Bar (Hatfield: Hatfield Square, Burnettstraat; Lynnwood, Gift Acres Sentrum, Lynnwoodstraat)

Cheeky’s is alombekend vir hul happy hour wat koop-een-kry-een gratis op alle skemerkelkies is. Happy hour is van 15:00 tot 19:00 op weeksdae. Hulle hou ook gereeld gratis musiekvertonings. Enige iets wat gratis is, is die moeite werd! Toni’s Fully Furnished Pizza (Hoek van 18e en Chamberlainstraat, Deernis)

Toni’s Fully Furnished Pizza, beter bekend as net Toni’s, is Pretoria se top pizza-plek. Jy het nog nie pizza geëet as jy nie `n Toni’s pizza geëet het nie. Probeer gerus die Maradona (gorgonzola- en mozzarellakaas, salami en ham) of die Coscia D’angnello (met lamsboud, jogurt, dadels en feta).

Bravo Pizzeria (Hoek van Duncan en Suidstrate)

Bravo’s is `n klein geheim onder studente. Bring jou eie drinkgoed en kom eet `n billik geprysde pizza. Woensdae word daar live musiek gespeel.

Musiekfabriek:

Tings an’ Times (1065 Arcadiastraat)

Tings an’ Times is nie net `n topplek om na live musiek te luister nie, maar hulle hou ook gereeld komedie- en fliekaande. Hulle pitas is iets om oor huis toe te skryf en die beste van als: as jy net iets kom eet en loop voordat die bands optree, kan jy jou deurfooi terugkry!

Hotbox Studios (1072 Schoemanstraat)

Hotbox is ideaal vir die warm somersaande in Pretoria. Die buitelugverhoog speel gereeld gasheer vir die groot name in die Suid Afrikaanse musiekbedryf.

 

Deur die blare:

Nasionale Botaniese Tuine (Cussionialaan, Brummeria)

Die tuine is nie net `n plek vir tree-huggers nie. Park Acoustics word ook gereeld op Sondae hier gehou. Kan jy dink aan `n beter manier om die naweek mee af te sluit as om na rustige kitaarklanke te luister terwyl jy onder die skaduwee van `n inheemse boom lê? LC De Villiers Sportgronde (Suidstraat, Hatfield)

Twee van die Universiteit van Pretoria se grootste kaperjolle word jaarliks op LC aangebied. Die eerste semester en reënseisoen word met die Joolplaas-feesvieringe afgeskop. As jy dit maak tot Halfjaarkalenderdag kan jy ook uitsien na `n lekker buitekuier in die middel van die winter. Onthou `n poncho of parka om die weer te trotseer. Alternatiewelik kan jy drink om van die ongure weer te vergeet. Daar is ook braaigeriewe om jou tydens die res van die jaar besig te hou.

Modewys:

Mix and Match Studios (283 15e Laan, Rietondale)

Mix and Match is `n spesialis-modewinkel met `n verskeidenheid inhuisreekse. Die klere is uniek en stylvol. Van dié klere het reeds in Elle modetydskrif verskyn en van die reekse was ook al op die loopplanke tydens die Johannesburg Modeweek te sien. Mix and Match verkoop ook spotgoedkoop koffie, so gaan loer gerus in.

Website | view posts