CHRIS VAN DER MERWE
Soos wat jy nou sit en hierdie uitgawe lees, is daar soveel dinge wat in die onmiddelikke toekoms in jou lewe gaan gebeur, sou jy jouself in `n koshuis of daghuis bevind. Om in `n koshuis of daghuis te wees is werklik `n ervaring soos geen ander nie. Perdeby verstaan dat hierdie spesifieke tyd in jou lewe egter ook baie intimiderend kan wees, met eerstejaarsoriëntering en so. Daarom kyk Perdeby vandeesweek na allerhande kos- en daghuisgebeurtenisse waarna jy in jou eerste jaar kan uitsien.
Ienkmelodienk
Dit is een van die eerste groot koshuisgebeurtenisse wat jaarliks gehou word. Ienkmelodienk is basies die universiteitsweergawe van `n hoërskool se “groentjie konsert” met `n paar belangrike verskille. Ienkmelodienk vind in `n Amfiteater stampvol mense plaas, daar is beoordelaars wat die beste mans- en dameskoshuis kies en daar is baie meer pret daarby betrokke. Elke jaar is daar `n spesifieke tema waarby die koshuise moet hou wanneer hulle hul roetines en dekor uitdink. As jy een van diegene is wat nie in `n koshuis of daghuis is nie, gaan jy glad nie spyt wees as jy die rol van `n toeskouer inneem nie. Ienkmelodienk vind 6 Febrauarie plaas.
Zef Troues
Ja, jy het reg gelees. Zef troues. Voor jy vra, dit is presies wat jy dink dit is. Dit is `n bekende tradisie onder die koshuise van Tuks. Dit werk so: twee HK-lede van verskillende koshuise (verskillende geslagte, natuurlik) “trou” in Hatfield Square. Wat dit egter anders maak, is die feit dat al die eerstejaars van daardie twee koshuise so zef as menslik moontlik moet aantrek. Perdeby praat van jou-beste-poging-tot-`n-Die-Antwoord-aanhanger zef. Dit is `n groot jol en dit gee vir baie eerstejaars `n voorsmakie van die glorieryke Hatfield Square.
Sêrrie
Sêrrie is `n groot hoogtepunt op Tuks se jaarlikse kalender. In `n neutedop is dit soos Ienkmelodienk, behalwe dat deelname op `n vrywillige basis is en die hele koshuis daaraan mag deelneem. As daar ooit `n rede was om by Tuks se koshuise uit te hang, is dit dié twee dae, waar die verskillende koshuise hulle Sêrrieroetines vir die ander kom optree. Een aand tree die manne hulle danspassies vir die dames op en die volgenge aand is dit die dames se beurt. Die beste koshuise gaan deur na die finale rondte wat in die Amfiteater plaasvind en uiteindelik word daar `n beste mans- en dameskoshuis aangekondig.
Serenade
Voor jy vra: nee, Sêrrie is nie kort vir Serenade nie.
Serenade is waar die koshuise se werklike sangtalent na vore kom. Dit is waar `n klein groepie mense uit die koshuis verskeie liedjies vir beoordeelaars sing en die beste koshuise as die wenners gekroon word. Dink daaraan as `n koshuisweergawe van Glee, want dit is presies wat dit is. Die wenners van hierdie kompetisie verteenwoordig Tuks by die Nasionale Serenade-kampioenskappe.
Pot en Pons
Potjiekos en punch. Wat kan nou beter wees as dit? Gelukkig het Tuks êrens in sy leeftyd ook hierdie waarheid raakgesien en `n jaarlikse gebeurtenis daarvan gemaak. Pot en Pons is `n dag waar al die koshuise `n (klein) potjie maak. wat pas by `n tema wat die koshuis kies, en naatuurlik (baie) pons om die potjiekos mee af te sluk. Hierdie gebeurtenis word op die Joolplaas op die LC de Villiers-sportgronde gehou. Daar is ampetlike beoordelaars wat die koshuise se, wel … pot en pons beoordeel, en op die einde van die dag `n wenner kroon.
Dié is net `n paar van die Tukstradisies wat hierdie jaar op jou wag en waarvoor jy kan uitsien.
Foto’s: Jerome van Zyl en Gerhard Louw