JACO JORDAAN
Kunstenaars is deur die eeue heen deur baie dinge geïnspireer: die natuurskoon, die gruwels van oorlog, die voorkeure van hul ryk beskermhere, verskeie geestesversteuringe … Maar daar is niks soos ware liefde om pen op papier of kwas op doek te kry nie – met gemengde sukses.
RAD!
- Eteriese digkuns. Ons kulturele erfenis sou beslis armer gewees het sonder Shakespeare se “Shall I compare thee to a summer’s day?”, Burns se “O, my love is like a red, red rose” of ons eie Breyten se “Allerliefste, ek stuur vir jou `n rooiborsduif.” Die keersy hiervan is natuurlik dat elke verliefde Jan Rap en sy versotte maat homself kapabel ag om sy hand aan hierdie gevaarlike kunsvorm te waag.
- Kruisbestuiwing. Camille Claudel was die groot Franse beeldhouer Auguste Rodin se student, assistent, model en later ook minnares. Alhoewel hy nooit sy lewensmaat vir haar verlaat het nie, is hul wedersydse invloed op mekaar se kuns duidelik. Van hul belangrikste werke is sy aan sy te sien in die Musée Rodin, een van die lieflikste museums in Parys.
- Klassieke liefdesliedjies.Wat sou `n troue sonder “(Everything I do) I do it for you” van Bryan Adams of “Unchained Melody” van The Righteous Brothers wees? Of `n karaoke-aand sonder “I will always love you” van Whitney Houston of “Total Eclipse of the Heart” van Bonnie Tyler? En al trek jy jou neus op vir dié afgeleefde tranetrekkers, is daar sekerlik `n deuntjie wat jou nostalgies aan jóú eerste kalwerliefde laat dink – al is dit nou “Swing Swing” van All American Rejects of “I want you to want me” van Cheap Trick.
SAD!
- Aardige seksbeskrywings.Sekere dinge moet liefs aan die verbeelding oorgelaat word. Selfs bekroonde skrywers oorspeel soms hul hand met hul beskrywing van die vleeslike. Die Literary Review ken sedert 1993 jaarliks die Bad Sex Award aan die mees onbeholpe sekstonele in `n andersins verdienstelike boek toe. Rowan Somerville het die 2010-prys ingepalm vir vergelykings soos dié: “Like a lepidopterist mounting a tough-skinned insect with a too blunt pin he screwed himself into her.”
- Afrikaanse popsensasies.Sterre soos Kurt Darren, Nicholis Louw en Lianie May met hul, um, gestroopte lirieke sou maar moeilik aan hulle posisies op die trefferparades kon vasklou as hulle nie kon sing oor meisies wat prinsesse van die dansvloer is, generaals wie se dogters gehaal kom word en mense wat nie meer hul geliefdes soen nie. Ek twyfel of “Huisverband, Huisverband”die dansvloer aan die brand sou kry.
- Massageproduseerde liefdesromans.Daar is `n groter kans dat `n bleeksiel-bibliotekaresse van Bapsfontein ewige liefde in die arms van `n biljoenêr van Barbados sal vind as om op `n sweempie oorspronklikheid of grensverskuiwende innovering in die “romanse” genre af te kom. Dis asof uitgewers vermoed dat die harte van post-menopousale vroue te broos is vir `n bietjie onvoorspelbaarheid. Dit maak die liefde goedkoper as `n rooi teddiebeer die dag ná Valentynsdag.