Die kluts kwyt

by PDBY Staff | Apr 28, 2010 | News

HENALI KUIT

 “It’s a very, very mad world,” sê die liedjie. Jy hoef natuurlik net die nuus om sewe aan te skakel om te weet presies waarvan hulle praat. Perdeby besluit om hierdie week  te kyk na geestestoestande wat mens nié aldag sien nie.

Baie van ons dink aan psigose as ‘n emosionele skakelaar wat ‘n mens soos The Hulk oogsklaps van sús na só verander. Maar FA Geldard, outeur van Fundamentals of Psychology, voer aan dat die meeste geestestoestande oor maande of jare manifesteer.

Volgens Psigopatologie, deur profs. BP Geldenhuys en SI du Toit, is daar enkele toestande wat ‘n geaffekteerde wél baie vinnig van emosioneel na psigoties kan laat omswaai. Een so ‘n toestand is psigometriese epilepsie. “In die geval van psigometriese epilepsie verloor die persoon nie sy bewussyn nie, [maar] ‘n verskeidenheid van sielkundige simptome [kan waargeneem word]. Visuele, reuk- en akoestiese hallusinaisies kom soms voor.”

Volgens die professors was HF Verwoerd se moordenaar, Dimitri Tsafendas, in ‘n  psigomotoriese epilepsie-episode toe hy die moord gepleeg het. Daar word ook aangevoer dat Vincent van Gogh onder een van hierdie episodes gely het toe hy sy oor afgesny het en ook toe hy later selfmoord gepleeg het.

Selfs minder algemeen as Tsafendas en Van Gogh se geestestoestand is die neurologiese verskynsel van sinestesie. Hier is die assosiasie wat mens aan kleure, klanke, smake of reuke heg só sterk dat dit as’t ware deurdring tot jou ander sintuie en gevoel. Normale sinestesie-assosiasies laat visuele kunstenaars byvoorbeeld rooi verf gebruik wanneer hulle kwaad of verlief is en laat digters diep, stemhebbende woorde skryf as hulle wil hê die leser moet ‘n swaar stem “hoor”.

Maar enkele mense ervaar ‘n konstante sinestesie – hulle hoor byvoorbeeld elke keer engelekore as hulle crème brûlée eet, of ruik ‘n slegte reuk wanneer hulle ‘n klok hoor lui. Hierdie mense koppel, merkwaardig, ook ‘n kleur- of gevoelskonnotasie, wat altyd dieselfde is, aan letters en woorde: “Ek het as kind agter gekom dat mens die letter R maak deur ‘n P te skryf en ‘n strepetjie van sy maag af te teken. Ek was stomgeslaan dat ek op hierdie manier ‘n geel letter in ‘n oranje letter kon verander deur net ‘n strepie by te voeg,” sê Patricia Lynne Duffy, openbare spreker en outeur, oor sinestesie in haar boek Blue Cats and Chartreuse Kittens: How Synesthetes Color their Worlds.

Sinestese is nie die enigste mense wat ‘n soort natuurlike psigidilisme beleef nie. Volgens profs. Geldenhuys en Du Toit sal sommige pasiënte wat aan skisofrenie lei hulle sintuie en assosiasie soms “omruil” wat maak dat hulle hulself en die wêreld anders sien as wat ons as realisties sou beskryf. Op die vraag “Wie is jy?” het een pasiënt in die professore se studies byvoorbeeld geantwoord: “Switserland. Switserland is vredeliewend. Ek is vredeliewend. Ek is Switserland.” ‘n Ander het weer elke keer “Potchefstroom, Vrystaat, haak, Vrystaat, Kaapprovinsie, Natal!” uitgejubel as hy gevra is waar hy gebore is.

“Ek vra myself heeltyd af of ek mal is,” sê Susanna Kaysen, outeur van Girl, Interrupted (‘n memoir in die vorm van essays wat ook in ‘n fliek omskep is). “Ek vra ander mense ook … ‘Is jy mal?’ Dis maar ‘n algemene ding om te sê: ‘Ek weet nie’. Maar dit beteken iets spesifiek vir my.” Wat “mal” ook al vir jou beteken, Perdeby hoop dit bevat darem nie nét af ore nie, maar ook iets van die kleurvolle wêreld van sinestese en vredeliewende skisofrene.

Website | view posts