Die Heuwels Fantasties: Wilder As Die Wildtuin

by PDBY Staff | Apr 4, 2011 | Entertainment

LUZAAN VAN DER WESTHUIZEN

Die Heuwels Fantasties se nuwe 14 snit album het pas die winkelrakke getref. Dit word algemeen verwag dat `n groep met `n opvolg album groei en verbetering moet toon, anders sal die album verseker nie `n sukses wees nie, en bloot net nog `n album wees.

Wilder As Die Wildtuin is definitief nie net nog `n album nie. Luister net na die eerste snit en jy weet dadelik jy het met `n wenalbum te doen. Adriaan Brand, Ryk Benade, Inge Beckmann, Frieda van den Heever en Coenie De Villiers is van die groot name wat saam met die manne aan van die liedjies gewerk het. 

Met die eerste snit “Wilder as die wildtuin” streel Die Heuwels Fantasties se kenmerkende klank jou gehoor. Die album is propvol mooi liedjies soos “Buitenste ruim” en “Verlore stilte” wat aan die klanke van “Leja” herinner. Die album sou nie volmaak wees sonder `n bietjie Coke nie – Francois van Coke is op die snit “Los my uit” te hoor.

`n Negatiewe aspek is dat Wilder As Die Wildtuin baie rustig is in vergelyking met die eerste album. Hierdie is wel `n lekker kuier album en gaan sonder twyfel `n groot sukses wees. As jy nog nooit `n groot aanhanger van Die Heuwels Fantasties was nie, sal hierdie album seker nie jou denkrigting verander nie. Dit is suiwer Die Heuwels Fantasties. Aanhangers sal dus nie teleurgesteld wees nie.

Website | view posts