LUZAAN VAN DER WESTHUIZEN
Christoff Beukes is nie juis `n bekende naam in musiek kringe nie, tensy Soul Picnic iewers `n klokkie vir iemand sou lui. Hoe dit ookal sy, hy het die voorbeeld van talle ander sangers gevolg deur `n solo loopbaan en 13 snit debuutalbum, Geraamtes Van `n Droom, die lig te laat sien.
Die album se rooi en swart omslag, met Beukes wat profeties op die voorblad pronk, herinner nogal aan die van Green Day of Bullet For My Valentine, maar dit is waar die ooreenkoms eindig want sy musiekstyl kan glad nie met hulle musiek vergelyk word nie.
Beukes skep `n ensamble met klanke van die akoestiese kitaar, mondfluitjie, klawers, dromme, klavier en saksefoon wat aan Valiant Swart se musiek herinner. Die musiek sal moontlik in `n versameling langs die van Swart en André Swiegers te vinde wees.
Die album skop af met `n energieke “Veertigjaar” en skuif oor na `n dieper “Die gange van jou oë”. Dit verg egter tyd om aan Beukes se styl gewoond te raak omdat dit nie regtig strook met die van ander jong musikante waarmee hy moet meeding vir `n plekkie in die son nie.
Sy musiek is glad nie dansvloer materiaal nie. In sy lirieke word kwessies in Suid-Afrika op `n eiesoortige manier aangespreek. Hy raak kwessies aan waarmee mense in die tyd waarin ons leef kan vereenselwig, soos moord en aanranding.
Dit is moeilik om oornag sukses as nuweling te behaal, veral as `n kunstenaar se musiek nie aanklank vind by die deursnit musiek liefhebber nie. Beukes se musiek sal wel vir `n uitgesoekte teikenmark werk. Hy is egter nog onbekend en sal homself intens moet bekendstel aan die CD kopers daar buite.