LUZAAN VAN DER WESTHUIZEN
‘n Uitstekende, verfrissende musikale ontploffing met ‘n verskil. Dit is wat die nuwe plaaslike rap groep, Bittereinder, pas veroorsaak het met hulle amptelike toetrede tot die plaaslike musiek wêreld. Hulle 12 snit debuutalbum, ‘n Ware Verhaal, is pas vrygestel.
As die rapklanke van Jack Parow en ander rappers jou nie aanstaan nie, sal Bittereinder met Jaco van der Merwe, Peach van Pletzen en Louis Minnaar se benadering moontlik jou opinie oor rap verander.
Die drie ouens het afsonderlik alreeds ‘n enorme impak in die bedryf gemaak, maar as ‘n eenheid het iets ontstaan wat net suksesvol kan wees. Hulle rap heg ‘n hele nuwe betekenis aan die genre deur dit met Afrikaanse musiek(wat aan die klanke van Die Heuwels Fantasties herinner) te kombineer. Die album beloof dus om nie teleurtestel nie.
Die album vloei gemaklik van een snit na die volgende, en alhoewel elke snit sy eie unieke klanke het, herken ‘n mens nog steeds Bittereinder se unieke styl in elkeen. Die oplettendes sal ook opmerk dat bekende name soos Tings ‘n Times, Burnett Straat en TuksFM in van die lirieke voorkom.
Die bekende groep, Lark, se hoofsanger, Inge Beckmann, asook Sev Statik maak deel uit van die 6 kunstenaars wat op 5 van die liedjies op die album saam met Bittereinder optree. “A tale of three cities” saam met Jack Parow en Tumi Molekane is klaar gewild. ‘n Eerste vir rap is ook die Hollandse / Duitse kombinasie getiteld “Slechtemensen”. Dit is werklik iets om na te luister.
As jy graag lirieke leer deur dit uit die liriekeboekie te lees kan die gaskunstenaars se lirieke problematies wees – dit is nie in die boekie opgeneem nie.
Die album buiteblad is eenvoudig dog treffend. Die maag (met smaaklike maaghare) wat op die buite blad saam met Jaco, Peach en Louis se koppe verskyn is welvreemd.
Dit is werklik moeilik om fout te vind met Bittereinder se debuut album. Dit kan dalk net ‘n kopskuif veroorsaak by stoere anti-rap bittereinders.