Ek is ‘n derdejaar student aan die Universitiet van Pretoria. Ek is trots om hier te studeer en ek glo ek studeer by ‘n wêreldklas akademiese instelling. Wat my egter onstel, is die feit dat my veiligheid in Hatfield en omgewing drasties verminder het.
Ek gesels gereeld met medestudente en almal se ervaring is dieselfde. Almal ken iemand wat al gemug of gepickpocket is of wat al self die ervaring beleef het in en om Hatfield Square.
Die sogenaamde ‘karwagte’ het byna oornag verdubbel, met die gevolg dat jy nie jou voertuig kan parkeer sonder dat daar drie of vier van dié mense op jou toesak nie. Wat die situasie vererger is die feit dat jy tog maar net geld moet uithaal en hulle moet betaal of jy kry ‘n krapmerk met ‘n muntstuk of sleutel aan die kant van jou motor.
Daar is ‘n konstante pestilensie van bedelaars en persone wat saans dwelms aan jou wil verkoop. Daar is GEEN regulering van hierdie mense wat rondhang nie. As jy uiteindelik verby die karwagte, bedelaars en dwelmhandelaars gekom het, lê die Square voor jou waar daar byna elke aand ‘n fight uitbreek.
Hierdie is feite: van die jong man wat in Good4’s kop eerste teen ‘n muur gegooi is en later aan sy beserings dood is vyf jaar terug, tot die uitsmyter wat vermoor is in Good4’s se badkamers en onlangs die seun wat later gedurende die nag dood is aan die kopbeserings wat hy in ‘n onderonsie in die Square opgedoen het.
Ek het lank gewik en geweeg of ek die brief aan julle moes skryf, want as student heg jy ‘n sekere sentiment aan die kuierplekke. Ek het egter tot die gevolgtrekking gekom: Hatfield is besig om in een groot, gevaarlike gemors te ontaard.
Die situasie sal nie verbeter sonder drastiese ingryping deur die polisie en munisipaliteit nie en ek sien nie dat dit sommer gou gaan gebeur nie. Dis jammer.
Anoniem.