Bouwer Bosch sê Almal Maak Voute

by PDBY Staff | Mar 6, 2012 | Uncategorized

MARISSA GRAVETT

Almal Maak Voute is Bouwer Bosch van Straatligkinders en Dans Dans Lisa faam se eerste solo-album. Die album is geskryf en opgeneem binne `n tydperk van twee maande en is deur Wynand Delport vervaardig.

Met die eerste oogopslag is die spelfout in die titel opvallend, maar dit is nie doelloos so gekies nie. Spelfoute is vir die meeste mense `n oogseer en iets wat hul maklik uitwys en wil verander. Volgens Bosch “is dit so met vriende en ander mense in jou lewe ook” en wil jy “mense heeltyd verander en hulle foute uitwys”. Hy wil dus met dié titel en album mense leer om nie so bevooroordeeld te wees nie en dat mens net “moet lief wees” en ander aanvaar met foute en al. “Liefde wen uiteindelik” is die boodskap en ook die fokus van die album, wat grootliks uit liefdesliedere bestaan, hetsy liefde tussen verliefdes, pa en seun [“(K)anker”] of liefde tussen mens/man en God (“Verkeerde Note”).

In die openingsnit van die album, “Orkes Moles”, stel Bosch homself aan die woord. Alhoewel sy woorde vermaak verskaf, ruim dit vir die luisteraar ook alle twyfel, wat die musikale kwaliteit van die album betref, uit die weg. Dit is inderdaad asof Bosch slegs “probeer [om] te sing”.

In die daaropvolgende snitte, wat meestal handel oor die liefde tussen `n “ek” en “jy” – verlore liefde, gevonde liefde, gesoeke liefde, `n hart wen – vloei die lirieke, klavier en dromme nie geleidelik inmekaar nie en bring dit `n staccato-effek mee. Die trekklaviersolo’s in “Ware Liefde Dans” kikker die album op, maar verdwyn dan weer agter harde dromslae sodra die lirieke begin.

Bosch werk ook saam met bekendes soos Steve Hofmeyer (“Sit En Wag”) en Jaco van der Merwe van Bittereinder

[“(K)anker”] op die album. Dit is veral in “Sit En Wag” waar Hofmeyer se sterk stem die snit verhelder – alhoewel dit Bosch s’n taamlik oordonder.

Die versteekte hoogtepunt van die album is te vinde in

“(K)anker”, waar Bosch se stem vir die eerste keer in harmonie met die klavier is en Van der Merwe se bydrae in die refrein die snit `n hupstoot gee.

In “Verkeerde Note” is die dubbelstemme in die refrein oorspronklik, maar gepaardgaande met `n geskree maak dit dit moeilik om die snit te geniet.

Uiteindelik is Bosch se lirieke goeie skryfwerk en die boodskap daaragter vertoon sy eerbare waardes, maar ongelukkig laat die album musikaal veel te wense oor.

BEVINDING: 5/10

 

Website | view posts