Boek jouself af met hierdie topverkopers

by PDBY Staff | Sep 9, 2010 | Entertainment

NATASHIA HUDSON

Tussen die bladsye van ’n goeie boek maak alledaagse realiteite plek vir die onbekende. Klein swart lettertjies op wit papier laat die tyd stilstaan en breek nuwe wêrelde oop. Verbeelding word vrye teuels gegee terwyl geheimsinnige gebeure, vreemde plekke en eienaardige mense “lewendig” word.

Min dinge is egter so teleurstellend soos ’n flou slothoofstuk na 200 bladsye se lees. Aangesien boeke nie op hulle blaadjies getakseer kan word nie, is dit meeste van die tyd egter moeilik om te raai watter boek die moeite werd is om te koop. Perdeby het ’n paar boekwinkels gaan besoek en ’n lys van huidige topverkopers opgestel.

5. Blind Fury deur Lynda La Plante:

In hierdie moderne speurverhaal word die lyk van ’n jong meisie onder raaiselagtige omstandighede gevind. Twee soortgelyke moorde dui daarop dat dit die werk van ’n reeksmoordenaar is en polisiespeurder Anna Travis probeer die reeksmoordenaar vastrek.

Die verhaal neem ’n interessante wending wanneer ’n moordenaar, wat lewenslank toegesluit is as gevolg van Anna se speurwerk, haar vanuit die tronk kontak. Hy beweer hy weet wie die reeksmoordenaar is …

Besit hy regtig die sleutel tot die moorde of is hy slegs besig om met Anna se kop te smokkel?

4. Black Hills deur Nora Roberts:

Cooper ontmoet buurmeisie Lil terwyl hy op sy grootouers se wildsplaas in South Dakota kuier. Hul vriendskap ontwikkel oor die jare in ’n stormagtige romanse wat later skeefloop en hulle verbreek kontak. Tien jaar later is Cooper terug om sy oupa se spogwildsplaas oor te neem en sy pad kruis weer met Lil s’n wanneer onheilspellende dinge begin gebeur…

Binnekort is dit duidelik dat ’n moordenaar besig is om Lil en haar wildreservaat te teiken. Boeiende skryfwerk, spanning en passie maak van Black Hills’n topverkoper. Nora Roberts het al oor die 165 romans geskryf en al haar boeke sedert 1999 het die Sunday Times se topverkoperlys behaal.

3. Big Girl deur Danielle Steel:

Van jongs af word oorgewig Victoria deur haar voorkoms-behepte ouers verkleineer. Sy gaan werk as onderwyseres in New York om te ontsnap maar behou ’n hegte band met supermodel kleinsus Grace. Wanneer Grace egter verloof raak aan ’n gevoellose en selfgesentreerde man soos hul pa, word Victoria gedwing om haar verlede te konfronteer terwyl liefde onverwags sy verskyning maak.

Die glansende omslag van die boek (sensuele helderrooi lippe en ’n groot silwer lepel vol suiker) lyk aanvanklik aanloklik, maar volgens kritici stel Steel se nuutste boek egter teleur. Geen karakterontwikkeling, min lewensgetrouheid, vervelige herhaling en oppervlakkigheid is slegs ’n paar van die redes wat aangevoer word. Die boek bly egter soos soetkoek verkoop. Danielle Steel is tans nommer agt op die lys van topverkoper-outeurs in die wêreld en 22 van haar boeke is reeds as flieks verwerk.

2. The Girl who Kicked the Hornets’ Nest deur Stieg Larsson:

Die laaste aflewering in die opspraakwekkende Millennium-trilogie volg rekenaarindringer Lisbeth Salander se desperate poging om haar onbetrokkenheid in drie moorde te bewys. Die tweede boek in die trilogie, The Girl who played with Fire, eindig waar Lisbeth in die kop geskiet word.

Die laaste boek in die reeks vervolg waar sy om haar lewe in die hoësorgeenheid veg terwyl joernalis Mikael Blomkvist haar onskuld probeer bewys deur die Sweedse regering se komplot teen haar te probeer ontrafel.

Stieg Larsson is dood aan ’n hartaanval net voor sy Millennium-trilogie gepubliseer is en daar word tans oor die manuskripte van sy vierde en vyfde boeke baklei. Larsson is nommer twee op die lys van topverkoper-outeurs in die wêreld.

1. House Rules deur Jodi Picoult:

Jacob Hunt is ’n tienerseun wat as gevolg van Asperger-sindroom oor geen sosiale vaardighede beskik nie en ’n obsessie het met forensiese analise en CSI-styl misdaadtonele. Hy help graag die polisie by moordtonele uit vanweë sy breë kennis oor die onderwerp. Wanneer sy leermeester dood aangetref word, verander Jacob se gewone rol van ondersoeker egter na dié van verdagte.

Alhoewel die inhoud van die boek swaar klink, is dit ’n roerende verhaal wat vreeslik aangrypend is. Vir opregte boekliefhebbers is daar min dinge so lekker soos ’n boek wat se bladsye so te sê vanself omblaai en in hierdie boek is dit die geval. House Rules is beslis die moet-lees boek van die seisoen! Jodi Picoult is alombekend vir haar verskeie treffers veral My Sister’s Keeper wat reeds as ’n fliek verwerk is waarin Cameron Diaz en Abigail Breslin die hoofrolle vertolk.

Website | view posts